Thursday, August 24, 2017

Korfos. Vissop.



22 Augustus 2017. Dinsdag.

Poros tot Korfos

Wat ’n heerlike verrassing! Ons gaan vir Neil en Sandi by Korfos ontmoet vir vissop. Hulle is ook toevallig in die omgewing. Ons trek anker op en gelukkig is niemand se anker oor ons s’n nie en ons vertrek na Korfos, 25 myl.

Dit is sommer net ’n doodgewone seilpad. Die kinders gaan lê skuins, want hulle is mos nou vreeslik moeg na die Poros-laataand. Ek en die kaptein beman maar ewe gedwee en pligsgetrou vir Maja.

Ons vaar by die baai van Korfos in en Neil en Sandi is alreeds daar op anker. Ons vaar en groet hulle voordat ons na Papa George se restaurantkaai gaan vasmeer. Hulle wuif en wink ons nader en Archie tru en ek gooi die anker. George en kie maak ons vas en hier is ons. Archie bestel sommer dadelik vir ons vissop vir ses.

Ek en Michelle was dadelik wasgoed en die welriekende skoon wasgoed wapper op die drade. Neil kom haal ons in sy bootjie en ons gaan kuier by hulle op Wilson, hulle seiljag.

Dis heerlik om weer saam met Neil en Sandi te kuier. Ons spreek af om mekaar 20:00 by die restaurant te ontmoet en ons gaan terug na Maja. Die kinders het ’n warm stort ontdek en Maja se bemanning skrop omtrent en ons ruik te heerlik na seep en sjampoo. Ons is reg vir die aand.

Ons tafel is reg voor Maja en ons gesels opgewonde totdat die vissop kom en ons wegval. Dis geurig en heerlik. Nie so uitsonderlik lekker soos die vorige keer nie, maar nogtans heerlik. 

Michelle en Johan
Ek en die Kaptein
Johan, Michelle, ek, Archie, Sandi en Neil
Ons saam met Papa George en sy seun

Dit was ’n heerlike aand, met heerlike kos en geselskap. “Dankie, Michelle en Johan vir ’n heerlike ete. Ons het dit vreeslik geniet”.

No comments:

Post a Comment