Thursday, August 24, 2017

Daskalio, my Daskalio en die Kanaal van Korinte.


23 Augustus 2017. Woensdag.

Korfos tot Daskalio via die Kanaal van Korinte


Dis vroegoggend opstaan en vertrek uit Korfos na Daskalio, 39 myl. Ons moet ook deur die Kanaal van Korinte gaan en dit kan ook baie tyd in beslag neem.

Johan wil weer visvang en dis nie lank nie of die eerste vis byt. Gaaf soos wat hy is, laat hy toe dat die kaptein die vangs intrek. Dis ook ’n tuna, maar weereens te klein vir die pan. “Ja, Fanie, die bemanning het al drie visse gevang!”

Nog 'n tunatjie

Kort daarna byt die vis weer, maar dit was seker ’n grote, want die lyn breek. Dis toe ook die einde van die visvang, want Johan het geen visgereedskap meer nie. Die hengelboks wat Fanie gebring het, het mos raaiselagtig spoorloos verdwyn.

Dis ’n lang pad en tot Michelle kry ’n beurt agter die helm. Sy doen goeie werk as stuurman. Ons vaar en vaar en uiteindelik kom die kanaal is sig. Nou is dit alongside en almal kry hulle opdragte. Archie stuur pragtig op die kaai af, Johan klim af met die tou en maak vas en Michelle help met die ander tou en help ook om die fenders hoër te stel, want die kaai is hoog.

Michelle agter die helm

Ek en Michelle bly by Maja en die manne gaan betaal die €156 vir die voorreg om deur die kanaal te vaar. Dis die duurste kanaal per kilometer in die wêreld. Sommer gou is hulle terug en ons wag vir die opdrag oor Kanaal 11 dat ons moet gereedmaak. Die vrou sê ons moet losmaak en by die breekwater gaan wag. 

Wag vir toelating tot die Kanaal

Toe wag en wag en wag ons en toe kom die opdragte. Hulle laat die vinnige bote eerste deurgaan en dan die seiljagte en laastens die Anna boot, wat ’n ekskursie boot is wat agies vir ’n rit deur die kanaal vat en dadelik omdraai en terugvaar. Maja is net voor Anna.

Die eerste bote vaar deur en toe is dit ons beurt. Die kanaal is 3.2 myl lank, 25m breed en 6.5m diep. Die kalkklip walle is tot 75m hoog. Daar is vier brûe wat die kanaal kruis. Wel, vir my bly dit altyd ’n emosionele ervaring om deur die kanaal te vaar.

Vier brûe
Kanaal van Korinte
Hoë rotswande

Michelle en Johan geniet dit terdeë. Hulle sit voor op Maja se snoet en verkyk hulle aan alles, soos twee regte agies. Die kaptein konsentreer om ons veilig deur die kanaal te kry en Maja prrrr ritmies voort. Net so bietjie vinniger as gewoonlik, want as jy te stadig ry, sê  die man op Kanaal 11 jy moet versnel.

Die einde van die kanaal is in sig en die kinders kyk na die hidroliese brug. Toe is ons deur en die Saronic see lê agter ons en ons is in die Golf van Korinte. Ons gaan nou aanstoot tot by Dhaskalio.

Einde van die Kanaal

Ons vaar vandag deur ’n baie diep stuk see van 638m en Michelle wil net soos my suster, Elize, in die diep water in die see spring. Archie merk die diepste punt op die GPS en toe ons daar kom, spring die twee jonges in die see. Michelle trek soos ’n boog deur die lug en Johan trek ’n vreeslike gesig toe hy spring. Hulle geniet dit vreeslik.

Michelle spring
Johan se beurt

Voor ons lê Daskalio en ons gooi op ’n ander plek anker as die vorige jare, nader aan die verlate klooster. Na vele samesprekings gooi ek en Johan die anker en ons is vas. Die kaptein gaan doen ondersoek en bevestig dat die anker klopdisselboom is.

Die kinders roei land toe en stap in die pynbos rond met hulle sloffies. Hulle roei terug in Dinkie en almal is vermoeid na die lang dag. Na ’n heerlike bord "Tuna al la Ansu", raak ons rustig en ek en die kaptein gaan kruip in. Wanneer die jonges ingekruip het, weet ek nie, want ek was reeds in droomland.

Land toe

No comments:

Post a Comment