Monday, July 24, 2017

Pythou Eiland. Pythou Baai.


11 Julie 2017. Dinsdag.

Koukounaries Baai na Pythou Baai


Vandag vaar ons in die Padasitikos Golf in op pad na Volos, waar Pieter en Zané gaan afklim. Dis 23.6 myl en ons trek vroeg weg uit ’n stil Koukounaries Baai na Pythou Baai op Pythou Eiland. Daar is nie genoeg wind vir seil nie, maar ons motorseil totdat die wind heeltemal gaan lê.

Vroegoggend visserman
Marmer gwarrie
Spieëlgladde see 

Pythou Baai is baie klein en word as ’n “settled weather” ankerplek beskryf. Wel, ons het “settled weather” en ons besluit om oor te slaap. Ons probeer anker gooi, maar die baai is klein, sandkolle is min, seegras is baie, die bodem is baie steil en na twee anker pogings besluit ons om “line ashore” te neem. Pieter en Zané doen hulle dinge en vas is ons.

Na “cold beverages” gaan verken Pieter en Zané die onderwater rotse en riwwe waar Zané nog “treasures” op tel. Dit 'n baie mooi snorkelplek.  Dis net ons, 'n paar kampeerders (wat met 'n seiljag aangekom het) en duisende seemeeus op die eiland. Die seemeeus is nooit stil nie en skreeu dag en nag.

Later gaan stap Zané en ek na die hoogste punt op die eiland om foto’s te neem. Dit maak die seemeeue baie ongelukkig en dit raas vir die vale.

Maja alleen in Pythou Baai
Zané op haar mishoop

Aandete is aartappels met 'n verskeidenheid vulsels. Dis Pieter en Zané se laaste anker.

 

No comments:

Post a Comment