Monday, August 8, 2016

Parmak.



5 Augustus 2016. Vrydag.

Datça tot Parmak

Niemand het vanoggend gaan draf nie.

Ons klim die bus na Eskidatca. Dis die ou dorp waar die rykes deesdae ou geboue koop en dit pragtig opknap. 

Eskidatça

Ons stap rond tussen die ou en opgeknapte geboue. Oral groei die bougainvillea's baldadig en met die helderste kleure. Pienk en pers en rooi en oranje.

Tussen die bougainvillea's
Blommekind

Dis ook amandelboom paradys hier en oral groei die neute. Elke huis het ’n paar van die bome. Ons tel amandels op die grond op en dan kap Archie dit vir ons stukkend en dan eet ons dit. Dit laat my dink aan ’n versie wat ek as kind geleer het.

Amandels het ’n harde dop

Eendag tel ek self een op

Ek vra vir boet

Kap dit vir my

Dan kan jou ook ’n stukkie kry,

En raai wat het toe gebeur

Hy kap dit netjies middeldeur

En eet toe self die binneste op.

Om amandels te oes, moet jy amper iets soos 'n akrobaat en boomklimmer wees. Hulle klim hoog in die bome en kap die ryp amandels met stokke af. Sommer maklik, sonder uitval.

Oes amandels

By een van die enigste oop kafees drink ons amandel koffie. Dit is heerlik. Archie drink soos n regte Engelsman vreeslik dainty uit n fyn koppie.

Drink amandel koffie

Ons gaan terug na die leë Maja en vertrek toe na Parmak,38°40.465 N, 27°38.180 O, 7.2 myl. Ons vaar maar net en kom by die rolbaai. Dis maar net ’n baai, niks besonders nie.

Parmak

En ons rol die hele nag. En ek slaap sowaar so tussen die gerol! Soos n baba!


No comments:

Post a Comment