Monday, August 8, 2016

Elize en Fanie.



Elize.

Elize

Dis Elize se derde seilervaring. Ek dink sy is baie lief vir Maja. Gepantser met serpe en doeke en hoede en brille teen Gus se aanslae teen haar oë en twee baadjies teen die “koue”, kom besoek sy keer op keer weer vir ons op Maja. Wegbly kan sy nie.

Sy het deeglik voorbereid vir die vakansie. Sy kom met aantekeninge oor al die besienswaardighede van elke eiland. Alles wat sy sien, word dan afgetik. Sy maak seker sy mis niks nie.

En weereens is sy die model toeris. Straatjies en stegies word verken, dorpies word gedoen en goetertjies word gekoop. Sy snuffel in die winkeltjies totdat sy haar poskaarte en lepeltjies en magnete en glasies en wat nog als kry. Dan word dit weer in haar kajuit op die bed uitgepak en weer bewonder. Dan word dit môre weer uitgepak en nog ’n keer bewonder. Ek kyk oopmond na haar as sy so elke dag weer tussen die goedjies rondsnuffel.

Haar aandetes wat sy gemaak het, was heerlik. Sy maak net of sy nie kan kook nie!  En elke middag, na ’n anker of vasmeer, word die koue drankies getrou ingeskink en dek toe gebring.

Dankie, Elize dat jy weer kom kuier het en jy is welkom om weer te kom.

Oor wat sy die meeste geniet het, skryf sy so:


Ek het Symi die meeste geniet. Dis ’n pragtige plek met pragtige huise en hawe. Daar is lieflike strande. Die lekkerte strandjie en strandswem, was by Symi.

Pragtige Symi

Die treintjie was ook heerlik en ek het die musiekvertoning van die Symi fees baie geniet. Die dorpskaai was in die dorp – heerlik. Dis net jammer dat die kafee oorkant ons sulke luide musiek tot 05:oo. in die oggend gespeel het. Daar het Symi ’n paar punte verloor.


Die opwindendste was die spring van Maja se snoet in die baie diep water. 

Elize spring

Die Mikro Chora by Tilos was die beste. (Sy was totaal weggevoer en meegevoer deur die chora)

Mikro Chora, Tilos
Elize by Mikro Chora

Marietjie – Baie dankie vir die heerlike seil. Jou lekker kos en slaai, jou goeie ankers en jou netjiese boot. (Plesier.)



Archie – Baie dankie vir hierdie wonderlike seilgeleentheid, jou kapteinskoffie, al die goed wat gelaai moes word en die goeie kaptein wat jy is.



Dankie, vir alles. Ek sal dit nooit vergeet nie.



Laatberig;

O ja, ek het iets vergeet by die hoogtepunte. Dit was my verjaardag. (Elize het eintlik twee keer verjaar. 29 Julie in die taverna in Tilos en 31 Julie op anker in Panormitis). Dit was baie spesiaal dat julle vir my gesing het. ‘n Geheime wens nog my hele lewe is dat Spur vir my moet sing as ons daar eet as ek verjaar. Toe sing julle daar in die restaurant vir my. Wat baie beter is as wat Spur sing. En nogal drie liedjies. Toe word twee wense van my waar. Ek verjaar op die Griekse eilande en julle sing. Toe pik ek ’n traan. (Elize pik altyd ’n traan).

En jy kook vir my ’n spesiale verjaarsdagete, spesiaal net vir MY. Toe pik ek weer ’n traan. (Ek sê mos!)


Elize pik 'n traan



Fanie.

Fanie

Fanie is totaal hiperaktief. Hy staan vroeg op en gaan draf. Dan kom gee hy kosbare inligting oor wat op die eiland te sien is. Hy het ook die vermoë om ’n bakkery uit te snuffel en dan met ’n vars brood huis toe te kom.

Hy stap maar ewe geduldig saam met Elize as sy stegie op en af stap en ook as sy haar honderde inkopies doen. Hy trek toue met mening en hou daarvan om op Maja se snoet te sit en sonbrand.

Dankie, dat jy weer kom seil het en jy is ook baie welkom om weer te kom.

Oor sy ervarings skryf hy so:

My gunsteling eiland was Nisyros, a.g.v. die verskeidenheid wat die eiland bied, die natuurskoon, die vulkaan, ou en nuwe dorpies wat ons almal saam met die karretjie kon besoek.

St Stefano vulkaan
Karretjie
Fanie by Mandraki, Nisyros

Die groot veerboot wat in die nag by Tilos aangekom het, met honderde mense, motors en trokke, het my absoluut gefassineer.


My lekkerste ervaring was om elke keer na ’n nuwe eiland toe te vaar en dan alles daar te ontdek en te sien.



My hardloopsessies was ook baie spesiaal. Wat ’n voorreg om so te hardloop op die pragtige Griekse eilande.



Baie dankie Archie en Marietjie vir ’n baie lekker ontspanne vaart tussen die eilande. Julle beplanning, gasvryheid en etes was baie deeglik en baie lekker. Nogmaals dankie.

Tot siens julle.

No comments:

Post a Comment