Friday, July 29, 2016

Kos. Kos Eiland.



25 Julie 2016. Maandag.

Vathi, Pserimos tot Kos
 
Gus Gus, die alewige Gus. Altyd teenwoordig, altyd daar om my siel te versondig. Gelukkig is dit nou dag en hy is klaar met nagdiens. Die wind is nou bietjie stiller.

Anker op en ons vertrek op pad na Kos, 36°53.737 N, 27°17.371 O, 9.6 myl. Fanie is vreeslik lief om op Maja se snoet te sit en hy laat nie op hom wag nie. Hy sit voor en sien alles eerste. Die kaptein seil vir Maja en ek en Elize sit maar en klets. Ons seil vir 1h10min.

Oggendskoot - Onder seil
 
Ons gaan eers probeer om by Kos se hawe plek te kry. En wat ’n geluk, daar is baie plek. Die kaaiman blaas sy fluitjie en ons maak gereed. Elkeen weet wat om te doen. Ek gooi anker en Archie tru. Elize en Fanie hou die sake dop om af te keer as dit nodig is. Ons kom netjies in en ons is veilig vas.

Dit is meer as wat ons van die Hollandse seiljag, Bright Side kan sê. Hulle sukkel met ’n gekruisde anker. Soos gewoonlik kyk almal onbeskaamd.

Kyk onbeskaamd
 
Die kaptein wink vir Archie om te kom help. Redding Internasionaal (Archie en Fanie) klim in Dinkie en roei daarheen. Met ’n tou bevry hulle die gekruisde anker en die seiljag is vry om sy roete na wie weet waar voort te sit. Archie en Fanie is die helde van die oomblik.


Redding Internasionaal

Elize en Fanie gaan dadelik dorp toe. Elize is mos een van daardie toeriste wat die hele dorp moet “doen”. Sy kan trofeë wen vir haar vermoë om ’n dorp plat te loop en te verken.

Kos
 
Ek en Elize gaan die Kasteel van die Ridders. Dit het dubbel mure en ’n grag. Daar is ’n Middeleeuse muur wat deel van die antieke stad ommuur. Ou kleine Maja is vasgemeer net onder die muur van die kasteel.

Ons loop in die ouwêreldse kasteel rond en wonder oor die mense van lank gelede. Hoe hulle geleef het en hulself altyd teen die vyand moes verdedig. Daardie tyd was dit mos die in-ding om ’n stad te gaan verower. Ai, mans darem! Ons loer oral in en loop in die ondergrondse tonnels. 

Kasteel van die Ridders
Mure
Kasteel
Ondergrondse tonnel
Uitsig oor die hawe
Kanonkoeëls
Elize

Toe is ons klaar gekasteel en gaan terug na Maja waar Fanie heerlik ontspan. Hy moet rus, want hy gaan draf. Archie kom soos ’n pakesel met aankope wat hy by die Lidl gekoop het. Hy het die bus geklim, want die Lidl is 4 km van die hawe af.

Fanie gaan draf en toe hy terug is, stap ons Marina toe om te gaan stort. Dis omtrent ’n halfuur se stap tot daar, maar die beloning is ’n heerlike stort met baie water. Ons kom silwerskoon daaruit en ruik heerlik kosmeties na seep en shampoo.

Kos is ’n plesierige plek, want hulle hou partytjie en disko tot laataand. Fanie slaap op die dek, maar hy kan glad nie slaap nie. Die dronkies val in die kanaal, meisies wat nie op hulle voete kan bly nie, word gedra. Die “beauty queens” van die motorboot langsaan gesels tot 3:00 en hou vir Elize uit die slaap.

Maar ons het dit geniet in Kos.


No comments:

Post a Comment