Friday, July 29, 2016

Paloi. Nisyros Eiland.



27 Julie 2016. Woensdag.

Tot Nisyros
 
Ons vaar weg van ons slaapplek en na etlike ontduikings van sekere vaartuie, vind ons die pad na Nisyros Eiland en wel na die hawe van Paloi, 36°37.179 N, 27°10.269 O, 12.0 myl. Ons seil vir 1h35min en vaar ’n ryk en ons is oor die stuk see en die hawe van Poloi lê voor ons. Daar is baie plek vir ons en ons gooi anker, Archie tru en die besoekers is gereed om af te keer. Hier gaan ons bly vir twee dae.

Fanie vang vis
 
Ons hou ’n geheime stemming of ons twee bromponies of een motor moet huur. Uitslag – 3 stemme vir motor en 1 stem vir bromponie. Ek wonder wie het vir ’n bromponie gestem?!

Tradisioneel gaan kyk mens saans na die sonsondergang in Madraki. Wie is ons om te stry en daar trek ons in ons wit Nissan Micra. Mandraki is nog net so pragtig soos altyd. Elize verkyk haar aan alles.

Ons stap al langs die see en Mandraki lyk pragtig in die laatmiddagson met sy tone wat so raak-raak aan die brekende branders (brandertjies). Die kronkelende paadjie lei ons na die klippies strand en ons geniet die vaste aarde onder ons voete. Dis lekker om vir ’n slag na die see te kyk van die land se kant af. Die klippies klou aan die land vas, wil nie nou al weer in die see getrek word nie. 

Klippies strand
 
Volgende op ons lys is die “Virgin Mary of the Caves”. Ons stap op boontoe en besoek die klooster. Dit fassineer my as kerkmens geweldig baie en ek drink die atmosfeer in die klooster in. Elize geniet dit ook baie, meer as wat ek van Archie en Fanie kan sê. 

"Church of Virgin Mary of the Cave"
Klippie mosaïek
Uitsig van die kerk

Elize wil die dorpie doen en ek steek by ’n kerkdiens vas waar ek in die deur staan totdat ’n kerkganger vir my beduie ek moet sit. Ek geniet my eerste kerkdiens in Griekeland geweldig baie, maar moet ongelukkig loop voordat dit heeltemal klaar is, want die ander weet nie waar ek is nie.

Elize verwonder haar aan die stegies in Mandraki en die mans loop maar ewe geduldig saam met ons. Sulke liewe dierbare eggenote!

Straat kafee
Mandraki
Seefront kafee
Magiese Mandraki
Ek en Archie

Ons gaan sit in ’n straatkafee en drink skemerkelkie. Ek en Elize ruk hand-uit en drink ’n gin en tonic. Te heerlik. Ons sit suip nou behoorlik! Die son sak loom agter die berg en ons begin toe maar karretjie se kant toe staan. Wat ’n heerlike aand het ons beleef in die magiese Mandraki.

Ons sit suip
 
Archie bestuur uitstekend en onthou om aan die regterkant van die pad te ry.



No comments:

Post a Comment