Monday, July 25, 2016

Vathi. Pserimos Eiland.



24 Julie 2016. Sondag.

Pothia tot Vathi, Pserimos Eiland
 
Na drie dae verlaat ons vir Pothia se kaai. Elize en Fanie kry hulle opdragte en ons vertrek sonder sukkel. Geen gekruisde ankers of iets nie. Die span bring die fenders in, Archie maak die anker vas en ek bestuur uit die hawe.

Gus waai lekker sterk op die nooiensvaart van die gaste. Gepanser teen die wind met allerhande eienaardige hulpmiddels beskerm Elize haar sensitiewe oë teen Gus se listige aanslae.

Pserimos se reuse Griekse vlag
Gepantser teen Gus
 
Gou kom die opdrag om die genoa te span en ons seil vir1h40 minute. Fanie kry al sy visgoedjies gereed, want hy gaan mos groot visse vang. Ons gaan later moeg wees om al die vis te eet wat hy vang. Die lyn word ingegooi en ons hoop op die beste.

Gus waai laat dit bars by ons ankerbaai. Die water is turkooishelder en ons gooi anker. Elize druk die knoppie om die ankerwag op die selfoon te stel en ons is gereed vir die nag.
 
Die water is koud en verfrissend. Ons swem heerlik en lank. As jy eers in is, kan jy nie uitkom nie. Elize lyk soos ’n marsman of iets.

Meermin en Marsmin


Toe is dit staptyd. Elize besluit sy sal by Maja bly en ons drie klim in Dinkie en die sterk manne roei wind-op. Dit gaan moeilik, want Gus se woede ken geen perke nie. Ons roei, maar ons staan stil. Vorder niks en ons klim toe sommer by die klippe uit.

Dinkie doen die ding
Klim by klippe uit
 
Fanie is soos ’n ribbok boontoe om die wêreld te verken. Ou Archie stap maar ewe geduldig saam met sy vrou. Die uitsigte van bo af van die baai is pragtig. Nie eers Gus en sy windvlae kan die mooi ontneem nie. Maja en ’n klomp van haar vriendinne lyk pragtig in die baai terwyl hulle ronddans op die maat van Gus se musiek.

Vathi Baai
Vathi Baai






Elize en Fanie
Opskop op Maja

Elize het darem ook nie leeggelê nie Sy het die aartappels silwerskoon afgewas, gereed vir vanaand se kos. Op die spyskaart is vis en skyfies en ons het omtrent gesmul.

Vis en tjips
 
Gus waai heelaand sonder ophou. Fanie slaap buite op die dek, maar Gus en die koel nagbries laat hom later terug sluip na die warmte van sy vrou se lyf.


No comments:

Post a Comment