Friday, June 17, 2016

Linaria. Skyros Eiland.



15 Junie 2016. Woensdag. 

Patitiri tot Linaria

Wat ’n aaklige nag. By hierdie die hawe rol en rol en rol die see heeltyd. Dit rol by die hawe in, dit rol teen die kaai vas, dan rol dit weer van vooraf. Dan kraak die toue en ruk stokstyf. G’n mens kan slaap nie. Tot die kaptein wat altyd soos ’n flippen baba slaap, staan 01:30 op om te kyk hoe hy die toue kan verstel dat Maja nie die ritteltit kry nie. Tot Yvon sit handjie by. So, die slaap is min en die dag gaan lank wees.

Sommige lede van die bemanning kan toe bietjie slaap en dis vroeg opstaan vandag. Die kaptein maak koffie, Yvon en Louise drink en toe is dit sukke tyd. Altyd koebaai. Hulle saal op om hulle veerboot 06:30 te kry en ons stap saam na die Flying Dolphin om afskeid te neem. Hewige gegroet vind plaas en hulle gaan aan boord. Ons stap terug na Maja en ek gaan staan op haar snoet om te waai. My familie is mos waaiers. Ons waai vreeslik, net soos die windturbines in Griekeland as Gus waai. Hulle vertrek en ek, Archie en Yvon wuif totdat ons mekaar nie meer kan sien nie. Weg is hulle en ons is weer alleen leen leen.

Tot siens julle
Koebaai

Ons kry alles reg om te vertrek. Ek is moeg van min slaap. Die volgende struikelblok is om te sien of die buurman nie sy anker oor ons s’n gegooi het nie. Ek vaar uit en Archie trek die anker op. Die bure se anker ruk-ruk verrradelik. Hy kom uit om te kyk. Hy het vermoed dat sy anker oor ons s’n is. Die water is helder en Archie sien sy anker is net-net oor ons s’n. Archie trek op en sy ankerketting het net weggeskuif en ons was vry. Ek wonder wie was meer verheug. Ons of hy!

Toe vat ons die lang pad na Linaria, 38°50.537 N, 24°32.249 O, 36.9 myl, op Skyros Eiland. Met ’n lekker wind van agter kon ons motorseil vir 2h30min en ons gemiddelde spoed was 5.6 knope. Ons topspoed was 7.3 knope. Later word Gus te agteraf en ons moet die seile intrek. Dit was ’n lang dag op die water, 6h34min.

Skuinslê

Ons benader Linaria deur ’n nou, vlak kanaal , waar die diepste deel 7 m is. Dit lyk vlak, want dit is vlak. Archie volg sy lyn noukeurig. Ons is nie lus om op die rotse te loop nie. Ek trek my maag in en knyp my boude en hou asem op en deur is ons. 

Eina kanaal
Linaria

Die hawe se mense kom help ons met ’n dinghie en ons maak vas met vasmeertoue. Dis die beste hulp en diens en effektiwiteit wat ons nog in Griekeland gekry het. Heerlik veilig. Vannag gaan ek lekker slaap.

Hierdie is kreef wêreld en tot my verbasing nooi Archie my uit vir kreef. Die man laat my die kreef vashou en sit dit op my skouer. Snaakse man! Archie eet skerpioenvis en ons smul behoorlik. 

Nie so seker hiervan nie!
Heerlike kreef
"Scorpion fish"

Wat ’n goeie dag was dit nie. Die see was nie te rof nie, ons kon vinnig seil en Linaria is ’n wonderlike hawe. En ’n heerlike aandete!



No comments:

Post a Comment