16 Junie 2016. Donderdag.
 |
Linaria tot Glyfada Baai |
Ons klim die 07:30 bus na die chora,
Skyros, wat ook die hoofdorp van die eiland is. Die busbestuurders kan dan goed
bestuur. Met die groot bus ry hy baie nou paadjies en skerp draaie en moet hare op die tande hê met al die motors wat sommer die straat vol parkeer.
Ons bekyk die plek en stap boontoe.
Daar is baie kerkies en een van die oudste kerkies steel my hart. Dit het ’n
sementvloer met ’n mooi koepel waarvan die muurskilderye plek-plek dof en stukkend is.
 |
Een van die kerkies |
 |
Baie ou kerkie |
 |
Sy koepeldak |
Die ou fort bo-op die heuwel is
gesluit, want dit lyk of dit enige oomblik ineen kan stort maar ons kry ’n mooi
uitsig oor die Skyros se hawe en die chora.
 |
Skyros se hawe |
 |
Skyros chora |
 |
Straattoneel |
Ons klim die 10:15 bus terug na Maja
en maak gereed om te vertrek na Glyfada Baai, 38°45.107 N, 24°36.960 O, 9.3 myl,
op Sarakino Eiland. Dis ’n kort dag vandag en môre pak ons nog ’n lang
seekruising van 48 myl aan.
Die kaptein is baie tevrede, want
ons seil vir 1h45min, amper die hele pad. Dit is ’n pragtige baai met
kristalhelder water. Ek sê vir Archie die water is net so skoon soos
swembadwater, maar hy sê: “Nee, skoner!” Die water is nogal koud, maar toe ek
eers in is, kon ek nie uit nie. Dis te lekker. Ons gaan aan land en stap op die
effe ruwe terrein. Daar onder lê die Kristalbaai in al sy glorie met die twee
seiljagte wat die prentjie vervolmaak.
 |
Glyfada Baai |
 |
Stap op Sarakino Eiland |
My pa vra toe nou die dag waar is
die foto van die vrou wat so gebuk het. Tot my spyt het ek nie so ’n foto nie,
maar hier is vir Pa ’n foto want “elke buk ’n meesterstuk”!
 |
Vir my Pa |
Ons moet vroeg inkruip om reg te
wees vir die dag van môre.
No comments:
Post a Comment