Thursday, August 22, 2019

Turtye. Ayvalik.

19 Augustus 2019. Maandag.

Roete tot datum

Mytilini tot Ayvalik Marina
Gaan dit 'n ligblou Maandag wees? Of  'n donkerblou een? Of sommer maar net 'n Maandag? Ons verlaat Griekeland vandag, Turkye toe. 

Die dag lê soos 'n berg voor my. Ons moet uit Griekeland klok, wind-op vaar na Ayvalik, 19 myl. Dan moet eers 'n transit log by Ayvalik Marina gaan koop, in Turkye gaan inklok en daarna gaan ons weer na die marina om vas te meer..

Die wind waai die hele nag en ek kan deur my slaapnewels al sien hoe word die deinings groter. Ons vertrek 6:30 uit die Mytilini Marina en vaar na die kaai by die hawepolisie waar ons moet uitklok. Mytilini se hawepolisie is bekend daarvoor dat hulle die lewe vir seilers moeilik maak. Ons hoop maar vir die beste. Hier moet ons alongside vasmaak. Ek staan gereed met die tou om af te klim. Archie pyl op die kaai af, swenk links en ek is naby genoeg aan die kaai om af te klim en vas te maak. Onthou, ek kan nie spring nie, my knieë! Ek maak vas.

Ons stap na die paspoort kontrole, maar hulle maak eers 7:30 oop. Ons wag toe maar 30 minute. Hulle stempel ons paspoorte en Archie gaan alleen na die doeane en hawemeester toe. Ek wag vir hom op Maja. Hy kom terug, ons maak los en vertrek. Ligblou Maandag. Alles het vlot verloop.

Toe tref ons daai see. Of liewers, toe tref daai see ons. Gus en sy hele legioen perde kom ons tegemoet. Hy loots 'n kavallerie-aanval op ons! Maja se spoed daal na 2 knope. Archie vermeerder die rewolusies en ons kan darem drie knope vaar. Wind reg van voor. Ons sukkel voort. Die seesproei maak ons papnat. Maja word uit die water geruk en dan weer neergegooi, net om die volgende golf te tref. Hierdie Med golwe volg mos vreeslik kort op mekaar. Die wind wissel van 17 tot 25 knope. Maar dis eintlik die see wat die groot probleem is. Sommige van die deinings stop ons in ons spore. Dis darem nie so erg soos daai dag met Elize en Martie nie. Ons bons vorentoe, darem vorentoe.

Vir 10 myl vaar ons so, voordat die land die die golwe kleiner maak. Ook later waai Gus tot 27 knope, maar die "fetch" is kleiner en die see is nie so groot nie. Ons vaar die hele pad teen die wind en kom genadiglik by Ayvalik aan. Donkerblou Maandag.
Vaar verby Alibey
Nou moet ons na die veerboothawe gaan om in te klok. Ons het nie 'n transit log nie en moet een by die marina koop. Archie kontak die marina per radio en die gawe Turke sê hulle sal vir ons een bring met hulle dinghie en ons kan dit by die ingang van die hawe kry. Dis wonderlike nuus en ons betaal die 442 tl en vaar veerboothawe toe. Die kaai is moerhoog, ek sal nie daar kan afklim nie. Selfs Archie gaan sukkel. Toe kom 'n jongman van 'n vasgemeerde veerboot en vang ons tou. Wat 'n genade en vas is ons.

Ons het gehoor hoe kroek die agente wat jou help om in Turkye te klok die seilers en ons is effe benoud. Archie vul sy transit log gou self in en ons stap polisie toe. Ons gebruik nie 'n agent nie, want slim Archie hét 'n transit log (danksy die marina). Die hele prosedure verloop glad en ons is wettig in Turkye. Wit Maandag.

Ons vaar na die marina, roep hulle oor die radio. Hulle help ons in en na 'n bietjie afstoot is ons veilig vas. Onthou Gus waai laat dit bars en om in 18 knope wind vas te meer, is moeilik. En al die blou van die Maandag val weg in die poel van dankbaarheid van veiligheid en verligting. Dit word maar net 'n gewone Maandag.

Ayvalik Marina
Ons vier ons aankoms in Turkye met 'n heerlike bord vars levraki en pan aartappels. En toe verlang ek skielik na Deon en Ryna wat in 2016 saam met ons hier in Ayvalik was. As Ryna nou hier was, sou ek vir haar 'n paar grappies vertel het!
Feesmaal

No comments:

Post a Comment