Thursday, August 22, 2019

Turkye. Pergamon.

21 Augustus 2019. Woensdag.

Vandag gaan ons met 'n dolmus na Bergama, die dorp aan die voet van die heuwel waar Pergamon is. Van daar  af gaan ons dan met 'n taxi na Pergamon, wat op die top van 'n heuwel (335 m), in die middel van vlakte gebou is.

Ons staan vroeg op en staan al 6:00 en wag vir 'n dolmus wat ons na die yeni otogar (nuwe busstasie) toe moet neem. Die eerste bus na Bergama vertrek 7:00 en dis so 'n halfuur se ry met die dolmus. Ons wag en wag en wraggies, 6:30 daag dolmus nr. 50 op en ons klim. Miskien sal ons betyds wees vir die 7:00 bus. En ons is sowaar betyds en klim die bus na Bergama, wat 7:05 vertrek.

By Bergama storm 'n taxibestuurder op ons af om ons na die bopunt van die antieke dorp te neem en ons klim. Die taxi laai ons bo af, ons betaal ingangfooi en ons begin die antieke dorp te verken.

Die Akropolis is bo-op die heuwel gebou. Die mure van die ou stad staan nog plek- plek. Jy kry 'n mooi uitsig oor die dam wat daar onder lê. Die  Die teater van Pergamon is een van die steilste in die wêreld. 10 000 mense kan daar sit gemaak word en is 3de eeu v.C gebou. Die toegang na die teater is deur 'n nou donker tonnel. Archie loop voor en ek is agterna.
 
Uitsig oor dam
Teater
Ingang tot teater
Steilste teater
 
Die altaar van Zeus is aan die suidekant van die teater. Die altaar is in 1871 deur Carl Humann weggeneem van Pergamon en word uitgestal in die Pergamon Museun in Berlyn. Die Turkse regering is tans besig om dit te probeer terugkry.
 
Altaar van Zeus
 
Die Tempel van Trajan is besonder mooi. Trajan het dit begin bou, maar na sy dood het Hadrian dit in 117 tot 138 voltooi. Die hele tempel was met marmer gebou. Hulle is besig om die tempel te herbou. Vir my is dit die mooiste deel van die antieke stad.

Marmerkolomme
Archie
Tempel van Trajan
Tempel van Trajan
 
Ons loop op die antieke pad terug en sien nog baie dele van die ou stad. Ons kry ook 'n geheelbeeld van die teater, die oorblyfsels van die Tempel van Athene, wat tydens die tydperk van Eumenes 11 in die 3de eeu v.C.gebou is en die tempel van Trajan. Oral is nog ou goed en oorblyfsels van geboue te sien. Dit moes 'n baie groot stad gewees het.
 
Pergamon
 
Die antieke pad neem ons ook verby die boonste- en onderste Gimnasiums.  Dis 'n reuse plek, waar die mense van daardie tyd baie aktiviteite gedoen het. Pilare en ander beboue is nog te sien. Oral is hulle besig met restoursiewerk.
 
Gimnasium
Boë
Ingang tot Gimnasium
 
Af af af loop ons en sien ook die Rooi Basilika daar onder. Ons stap verby kleurvolle ou huise in die ou deel van Bergama. Dis helderheid wat selfs die vaalste dag kan omtower tot baldadige plesierigheid. Ons geniet dit tredeë om hier te stap. Toe is ons onder en baie dors. Dis warm hier!

Vensters
Bergama se ou dorp
Kleurvol
Vensters
Met trekker dorp toe
Mengelmoeskardoes
Te koop
Bergama is bekend vir sy matte
 
Ons gaan besoek die Rooi Basilika. Die groot struktuur is in die 2de eeu onder die heerskappy van Hadrian vir die Griekse god, Serapis, gebou. Later is dit omgeskakel in 'n Bizantynse kerk. Dit bestaan uit die hoofgebou en twee torings. In die eerste eeu n.C. is 'n kerk binne-in die basilika gebou. Wat hiérdie ou kerk so besonders maak, is die feit dat een van die gemeentes wat in die Bybelboek, Openbaring, genoem word, se kerk in dié Basilika gebou was. In Openbaring 2 vers 12-17 staan geskrywe: "Skrywe aan die leraar van die gemeente van Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met twee snykante het: …"
 
Rooi Basilika
Binnekant van Basilika
Geheelbeeld
Vensters
 
Daar is ook 'n standbeeld van 'n Egiptiese godin, Sekhmet, en 'n werkende moskee waar moslems nog aanbid.

Sekhmet
 
Ons loop rond in die ruïnes van die basilika. Ek is in vervoering oor die geskiedenis wat dié plek het. Na ons heerlike uitstappie klim ons weer al ons busse en kom uitgeput by Maja aan.

No comments:

Post a Comment