Thursday, August 16, 2018

Marmaris.

14 Augustus 2018. Dinsdag.

Çiftlik tot Marmaris

Archie neem vir Maja pragtig tussen al die snoettoue deur en ons vaar na Marmaris, 13.7myl. Dis Francois en Roelien se laaste vaart. Dit het so vinnig verby gegaan.

Çiftlik

Ons vaar al geselsend voort. Vorentoe, altyd vorentoe. Toe ons on die draai is, begin Gus te waai en die kaptein gee die opdrag: "Span die seile!" En Francois en Roelien span daai genoa. Die wind waai van voor af en hulle moet drie keer "tack". Dis wanneer jy die genoa laat deurswaai na die ander kant toe om van rigting te verander. Francois en Roelien kwyt hul goed van hulle taak. 

Veral Francois geniet die geseilery vreeslik. Roelien sien vliegvisse en later sien ek ook twee. Na ongeveer 'n uur se seil, trek hulle die genoa in. Hierdie Marmaris Baai kan bedrywig raak met al die toeriste bote wat uit die hawe vaar.

Francois agter die helm

Francois is agter die helm en moet tussen die aankomende en links- en  regskomende verkeer deurvleg. Later neem die kaptein oor en ons vaar na Netsel Marina om diesel in te gooi en swartwater uit te pomp.
Seerowers

Ons vat 'n kans om in te kom by die dorpshawe en twee manne op 'n dinghie onderskep ons en vra of ons per radio 'n plek by die hawe gekry het. Archie deel hulle mee dat ons radio effens stukkend is en hulle bel gou self met die selfoon. En wat 'n geluk! Hulle het plek vir een nag, miskien twee. Nou hoef ons nie na Yacht Marine (wat baie vêr van die dorp af is) te gaan nie. Hier is ons loopafstand van die dorp af.

Ons ontmoet Neil se vriend, Ian Knipe, wat ons kom verwelkom. Wat 'n heerlike ontvangs. Hy gee vir Archie baie raad. Hy kry 'n man wat na die radio kom kyk en gaan vind uit oor ankerketting. Hy gee ook vir ons die naam van 'n restaurant waar ons kan gaan eet.

Archie koop 68 m ankerketting en merkers vir die verskillende lengtes. Ek, Archie en Francois merk die ketting en die twee manne kry die nuwe anker in die ankerboks. Dis swetende harde werk. 
Trek ou ankerketting tot op die kaai
Sit nuwe ankerketting in
Laai ou ankerketting op

Die aand neem Francois en Roelien ons uit na die restaurant wat Ian aanbeveel het, en wat 'n goeie keuse! Ons moet eers wag voor ons 'n tafel kry. Dis net mense, die plek is propvol. Na twintig minute se wag, kry ons'n tafel en eet heerlik. 

Archie eet 'n pide, Francois en Roelien 'n bord vol verskillende soorte lamsvleis en ek eet lamsrib. Die kos is heerlik! "Dankie Francois en Roelien vir die lekker bederf. Ons waardeer dit baie."
Ek en Archie
Francois en Roelien
Lamsbord

Die twee jonges lê langbeen op die dek en beskou die kom en gaan van die naglewe op Marmaris. 'n Baie goeie einde van die eerste been van dié twee se lang vakansie.

No comments:

Post a Comment