Friday, July 28, 2017

Evia Eiland. Khalkis. Ek is terug.



23 Julie 2017. Sondag.

Ek is terug, die treurende Seilende Sigeuner. Eerstens wil ek dankie sê vir Archie, Zané, Pieter, Ryna en Lourens wat die blog geskryf het toe ek weg was. En ek wás weg, het geleef in ’n wêreld van lewe en dood, baie vêr verwyder van die sorgvrye bestaan van Maja en haar mense.

Ek het die dag van my ma se dood, die oggendskof, van 09:00 tot 11:30, langs haar hospitaalbed gesit. Sy was rustig na die vorige dag se totale lyding en onrus. Haar asemhaling was gemaklik en ek het baie met haar gepraat. Miskien het sy my tog nog gehoor …


Ma

Maja dobber op die water,

uitgelewer aan die elemente van die heelal.

Dis soos my ma …

haar lewe dobber

tussen lewe en dood

tussen die nou en hiernamaals



Dis soos my ma …

sweef tussen die nou en die ewigheid

op die laaste golf van lewe

van op en af



Dis soos my ma …

van hier en weg

vir altyd en ewig

net weg, geen stem

geen lag, geen raas

net weg van ons



Dis soos ek …

bly alleen agter in die nou

weg van die sweef

weg van die soeke na asem

net alleen



Maar dan…



Dis soos my ma!

Verlos, Lig, Vreugde, Lewe

My ma was ’n engel

My ma ís ’n engel


                                                                                                  Manas

My ma is op die ouderdom van 86 jare 9 maande oorlede op 13 Julie 2017. Rus in vrede, Ma.



En nou is ek terug op Maja. So half uit my plek, so half sku vir die boot was ander s’n was. So half vreemdeling. Ek het die afgelope tyd ander reise beleef as dié op Maja.

Archie het my by die lughawe in Athene verras. Ek het nie geweet hy gaan daar wees nie. Ek was baie bly om hom weer te sien, die vreemdeling-kaptein van die vreemdeling-boot. Ons het met die trein deur die Griekse platteland gery. Hy weet hoe lief is ek vir treinry. Hy het so hard probeer om die vreemdeling-vrou van hom tuis te laat voel. Hy verloor sy beursie met al die kaarte op die trein. Wat ’n ramp!

Maja is in Khalkis in die marina. Ek het probeer glimlag toe hy die aan- boord-gaan foto neem, maar die glimlag was meer iets van ’n pyntrek.

Terug by Maja

Na ’n welkome middagslapie, het ek my rok wat Michelle vir my verjaarsdag gegee het, aangetrek en die nekding wat Riana my gegee het, ook vir my verjaarsdag, aangesit en ons is dorp toe. Ek probeer my bes om beter te voel. Maar helaas! Dis puur verniet.

Verjaardag uitrusting

Die aand 22:10 het ons gestaan en kyk hoe die brug onder die pad inskuif en die seiljagte in die donker deur die brug ry. Die gedagte dat ek twee jaar gelede in Maja was en toe ewe doodsbenoud self in die donker daar gery het, het my eers soos ’n vreemdeling laat voel. Ek is nou die een wat net doelloos staan en toekyk hoe ander dit doen. Daar is geen sprake van beleef in my nie. Ek kyk bloot apaties toe.

Brug maak oop
Bote ry deur

Terug by Maja het ek maar vroeg gaan inkruip. Ek is vreeslik moeg en het baie slaap om in te haal. Selfs my bed voel vreemd.

No comments:

Post a Comment