Monday, July 31, 2017

Evia Eiland. Nog stééds in Karavos.



29 tot 31 Julie 2017. Saterdag tot Maandag.

Ja, ons is nog stééds in Karavos en gaan nog lank hier bly. Ons is mos eintlik op pad na die suide om vir Michelle en Johan middel Augustus in Porto Cheli te kry. Maar aan die suidepunt van die Golf van Evia, voorspel hulle baie sterk winde vir Maandag, maar veral Dinsdag en Woensdag. En die probleem is dat daar in daai geweste nie goeie skuilplek is nie. Daar is wel ’n peperduur marina. Nou skuil ons maar hier by Karavos se hawe, waar die winde nie so sterk gaan wees nie. Hier is goeie skuiling, met goeie houkrag vir die anker.

Hier is nie veel te doen nie, so ons stap maar bietjie ronde en gaan LIDL toe. Ons het juis sampioene gekoop om gaar te maak. 

Visssersboot
Stap langs die see
Heilige plek langs die pad

Mooiste sampioene

As julle nie van ons hoor nie, is dit omdat hier nie eintlik iets gebeur nie. Ek kla nie, ek sê maar net!

Saturday, July 29, 2017

Evia Eiland. Karavos.



28 Julie 2017. Vrydag.

Eretria tot Karavos

Karavos is net 13.59 myl van hier en weg is ons. Gus waai nou weer van die westekant af en ons kan darem vir 1h39min seil. Archie hou mos baie van seil! Dit verskaf hom diepe vreugde as die seile wit in die wind bol en Maja klots-klots voortgaan op pad na die nuwe bestemming. En ek ook!

Die twee skoorstene is kenmerkend van Karavos. Dit kan al van vêr gesien word. Hier is ook ’n baie groot sementfabriek. ’n Regte werkersdorp.

Archie sit ’n triplyn aan die ankerketting, want die boek sê daar is ou vasmeerblokke waaraan jou anker vas kan haak. Toe is ons slaggereed. Daar is gelukkig plek by die kaai en Archie tru en ek gooi anker. Soos gewoonlik gaan ek dan baie vinnig agtertoe as Archie gereed is om met die tou in die hand op die kaai af te spring. Hier is niemand om ons te help vasmeer nie. Ek het wel bietjie vergeet wat die verskil tussen vorentoe en agtertoe ry is, maar ons meer suksesvol vas. 

Verstel fenders

Dis baie warm en later stap ons dorp toe, neem ’n paar foto’s van die kaai en hawe en stap verder. Ons kom op ’n vyeboom af wat jouwaarlik ryp vye het. Ons pluk elk ’n vy en word op heterdaad betrap deur die eienaar van die boom. Sy beduie vir my ek moet daar staan en wag. Gaan ons dan nou opgesluit word vir onwettige vye pluk?! Maar nee, die vriendelike vrou bring vir ons ’n hele sak yskoue vye! Ek is stomgeslaan en bedank haar opreg. Die boek sê hoeka dat dié dorp se inwoners is bekend vir hul vriendelikheid.

Karavos, vriendelike werkende dorp
Skoorstene
Maja in die middel
Heerlike vrienskap-vye

Ons geniet ons verblyf by Karavos en toe die son sommer gou-gou agter die berg insak, daal ’n salige soel koeligheid oor ons neer.

Evia Eiland. Erétria.



27 Julie 2017. Donderdag. 

Khalkis tot Eretria

Archie gaan eers gou na die hawepolisie toe om my weer op die bemanningslys te sit en Ryna en Lourens af te haal. Hulle is deesdae baie streng oor die bemanningslyste. Die mense wie se name op die lys is, moet op die boot wees. En bewaar jou siel as jy op die boot is en jou naam is nie op die lys nie. Onwettige immigrant-kamp toe met jou!

Ons vertrek uit Khalkis en val in die pad na Erétria, 13 myl en ons seil vir een uur. Ons vaar onder die Nuwe Khalkis brug deur 'n baie vlak kronkelende kanaal. 

Nuwe Khalkis brug
Archie

Die westewind waai. Eretria is ’n lekker groot baai en ons anker in 5m diep water.  Dit byt behoorlik en ons is vas.

Die wolke pak saam en word al hoe dikker en swaarder. Etlike weerligstrale verlig die oortrokke lug. Ons sien hoe die reënvlae grys neergiet aarde toe. Die swaar reën mis ons en Maja word net stofnat. Van wasgoed op die draad is daar ook geen sprake nie. Dan reën dit tien druppels, dan breek die son deur die wolke, net om die volgende oomblik weer weg te kruip en dan reën dit twintig druppels. Dis koud en van land toe gaan met Dinkie is daar geen sprake nie, want as die reën jou nie gaan natmaak nie, gaan die effe onstuimige see dit doen.

Son probeer deurbreek
Reënvlae

Dis die weerpatroon van die hele middag. Dis net Gus wat nie weet waar hy vandaan wil waai nie. Dan waai hy wes, dan oos en tot ’n klein klein bietjie suid (die boek sê die suidewind waai net twee keer in die jaar hier by Erétria en dis in die winter?)

Baie laat die aand kom twee jagte in die donker daar aan en gooi anker. Die een is te na aan ons en die ander jag en hy trek anker op en gooi weer. Ek weet nie hoekom kom hulle so laat in ’n baai aan nie.

Ons slaap rustig in ’n sag-wiegende Maja.

Friday, July 28, 2017

Kalambata. Meteora.


25 en 26 Julie 2017. Dinsdag en Woensdag. 

Ons is nogsteeds in Khalkis Marina. Vandag is ’n dag vir wonderwerke. Gister het Archie die dag op die internet deurgebring om te probeer om sy verlore kaarte te stop. Gerrie, my ou staatmaker broer in Suid-Afrika, het ook ingespring en gehelp met die stoppery.

Ek por vir Archie aan om by die polisiekantoor verby te stap as hy gaan treinkaartjies koop. Net miskien is die wallet daar. Hy is baie skepties, maar doen dit tog. En die wonderwerk gebeur, die wallet is daar! Met al die kaarte! En die helfde van die geld. Geseënd is hy wat vir Archie die helfde én al die kaarte gelos het! “Suid-Afrika, leer bietjie ’n les!" Iemand het die beursie by die polisie gaan inhandig!

Archie was nooit regtig lus vir die Meteora nie, maar om een of ander duistere rede het hy gesê ons moet gaan. Toe word die apatiese ek jou wrintie so bietjie opgewonde. Ons pak klein dagsakkies en ons is reg vir die avontuur.

Ons klim die 14:25 trein en daarna nog twee ander treine en na ’n baie mooi treinrit, kom ons 19:05 by Kalambata aan. Ons hotel, Ailos Star Hotel, is ’n aanganame verrassing. Dis so sentraal en pragtig. Die rotsvingers troon bo die dorp uit. Dit streel my seer siel en raak my aan. Ons gaan eet ’n gyro by Greek Taverna.

Rots torings

Die volgende dag, Woensdag, is ons 08:30 gereed vir ons bespreekte staptoer, saam met die stapgids, George en nog vier ander stappers.

George (links) se stapgroep

Ons val die pad. Ek hoop my knieë hou, want dit is 7.5 km. Die rotswoud is pragtig. Dit staan soos vingers wat opwaarts wys en die paadjie kronkel tussen hulle. Dis maklike stap en heerlik.

Val in die pad
Uitsig
Ek by baie ou plataan boom (ek staan links)

Ons sien ruïnes van lank vergane kloosters en toe ons om die hoek kom, sien ons ’n versteekte klooster. Dit hang as’t ware teen die rots. Ypapady is ’n pragtige klooster en dit is net vir stappers beskore om dit te besoek. Ons voel baie geëerd, want ons is van die eerste stappers wat die klooster kan besoek. Ons word welkom geheet met Griekse Turkish Delight en glasies water. Die kerkie van die klooster is pragtig. Dubbele bonus wat ek vandag kry – ek is kerkmens én stapper! En ek ervaar albei vandag sommerso saam. Salwing vir my siel!

Ypapady - "Hiddden Monastary"
Ypapady
Archie en ek by Ypapady

Ons sien nog ou ruïnes van vergete kloosters. 24 kloosters is vanaf die 14de eeu op die rotspilare gebou. Dis net ongelooflik as mens probeer dink hoe hulle dit reggekry het om die kloosters op dié onmoontlike plekke te bou. En dit net om hulle te beskerm teen vyandelike aanslae. Daardie monikke moes gesoute rotsklimmers gewees het!

Ruïnes van vergete kloosters

Ses is tans nog werkende kloosters, vyf vir monikke en een vir die nonne. In elke klooster bly daar nie meer as tien inwoners nie. In die verlede het sommige van die kloosters tot honderd inwoners gehuisves.

Ons sien die Holy Trinity, Varlaam en die Great Meteoron wat baie naby mekaar gebou is. Laasgenoemde is die een wat ek, saam met baie ander toeriste, gaan besoek. Eers moet ek die ongeveer 300 trappe opklim. 

Great Meteoron klooster
Holy Trinity (agter) en Varlaam kloosters

Die skedels van die monikke is in ’n kamer en staar my sonder oë en oopmond aan. Vir my is die kerk die mooiste. Dit stimuleer al die sintuie. Ek hoor die musiek, ruik die wierook en sien die mooi muurskilderye. Dan is jy veronderstel om die brood te neem en te eet. Maar vandag is ek maar net een van die baie toeriste wat nuuskierig rondkyk. Die binneplein is kleurvol versier met plante. Ek geniet die kombuis baie. Al daai ou kombuisware is vir my as kok baie interessant om te sien.

Skedels
Binnehof

Ons stap verder en sien die kloosters wat naby mekaar gebou is. Elkeen staan rotsvas gevestig op sy eie rotspilaar. Wat ’n gesig! Sommige van die uitsigte kan jy net kry as jy stap. Ons toergids, George, stop elke dan en wan sodat ons die kloosters kan bewonder.  

Laaste blik op klooster

Langs die pad is daar ook heelwat skilpaaie wat die pad saam met ons loop of kruis. Wat ’n heerlike stap! Dis nog net die laaste af af af en toe is die staptog klaar. Mensig, maar ek het dit geniet. Moeg, maar tevrede klim ons in die bussie en ry terug na Kalambata.

Ons klim die 17:32 trein en kom eers eers 00:15 terug in Khalkis. Wat ’n lang lekker dag!





Evia Eiland. Khalkis. Ek is terug.



23 Julie 2017. Sondag.

Ek is terug, die treurende Seilende Sigeuner. Eerstens wil ek dankie sê vir Archie, Zané, Pieter, Ryna en Lourens wat die blog geskryf het toe ek weg was. En ek wás weg, het geleef in ’n wêreld van lewe en dood, baie vêr verwyder van die sorgvrye bestaan van Maja en haar mense.

Ek het die dag van my ma se dood, die oggendskof, van 09:00 tot 11:30, langs haar hospitaalbed gesit. Sy was rustig na die vorige dag se totale lyding en onrus. Haar asemhaling was gemaklik en ek het baie met haar gepraat. Miskien het sy my tog nog gehoor …


Ma

Maja dobber op die water,

uitgelewer aan die elemente van die heelal.

Dis soos my ma …

haar lewe dobber

tussen lewe en dood

tussen die nou en hiernamaals



Dis soos my ma …

sweef tussen die nou en die ewigheid

op die laaste golf van lewe

van op en af



Dis soos my ma …

van hier en weg

vir altyd en ewig

net weg, geen stem

geen lag, geen raas

net weg van ons



Dis soos ek …

bly alleen agter in die nou

weg van die sweef

weg van die soeke na asem

net alleen



Maar dan…



Dis soos my ma!

Verlos, Lig, Vreugde, Lewe

My ma was ’n engel

My ma ís ’n engel


                                                                                                  Manas

My ma is op die ouderdom van 86 jare 9 maande oorlede op 13 Julie 2017. Rus in vrede, Ma.



En nou is ek terug op Maja. So half uit my plek, so half sku vir die boot was ander s’n was. So half vreemdeling. Ek het die afgelope tyd ander reise beleef as dié op Maja.

Archie het my by die lughawe in Athene verras. Ek het nie geweet hy gaan daar wees nie. Ek was baie bly om hom weer te sien, die vreemdeling-kaptein van die vreemdeling-boot. Ons het met die trein deur die Griekse platteland gery. Hy weet hoe lief is ek vir treinry. Hy het so hard probeer om die vreemdeling-vrou van hom tuis te laat voel. Hy verloor sy beursie met al die kaarte op die trein. Wat ’n ramp!

Maja is in Khalkis in die marina. Ek het probeer glimlag toe hy die aan- boord-gaan foto neem, maar die glimlag was meer iets van ’n pyntrek.

Terug by Maja

Na ’n welkome middagslapie, het ek my rok wat Michelle vir my verjaarsdag gegee het, aangetrek en die nekding wat Riana my gegee het, ook vir my verjaarsdag, aangesit en ons is dorp toe. Ek probeer my bes om beter te voel. Maar helaas! Dis puur verniet.

Verjaardag uitrusting

Die aand 22:10 het ons gestaan en kyk hoe die brug onder die pad inskuif en die seiljagte in die donker deur die brug ry. Die gedagte dat ek twee jaar gelede in Maja was en toe ewe doodsbenoud self in die donker daar gery het, het my eers soos ’n vreemdeling laat voel. Ek is nou die een wat net doelloos staan en toekyk hoe ander dit doen. Daar is geen sprake van beleef in my nie. Ek kyk bloot apaties toe.

Brug maak oop
Bote ry deur

Terug by Maja het ek maar vroeg gaan inkruip. Ek is vreeslik moeg en het baie slaap om in te haal. Selfs my bed voel vreemd.