27 Julie 2017. Donderdag.
![]() | |
Khalkis tot Eretria |
Archie gaan eers gou na die hawepolisie toe om my weer op die bemanningslys te sit en Ryna en Lourens af te haal. Hulle is deesdae baie streng oor die bemanningslyste. Die mense wie se name op die lys is, moet op die boot wees. En bewaar jou siel as jy op die boot is en jou naam is nie op die lys nie. Onwettige immigrant-kamp toe met jou!
Ons vertrek uit Khalkis en val in die pad na
Erétria, 13 myl en ons seil vir een uur. Ons vaar onder die Nuwe Khalkis brug deur 'n baie vlak kronkelende kanaal.
Nuwe Khalkis brug |
Archie |
Die westewind waai. Eretria is ’n lekker
groot baai en ons anker in 5m diep water. Dit byt behoorlik en ons is vas.
Die wolke pak saam en word al hoe dikker en
swaarder. Etlike weerligstrale verlig die oortrokke lug. Ons sien hoe die reënvlae
grys neergiet aarde toe. Die swaar reën mis ons en Maja word net stofnat. Van
wasgoed op die draad is daar ook geen sprake nie. Dan reën dit tien druppels,
dan breek die son deur die wolke, net om die volgende oomblik weer weg te kruip
en dan reën dit twintig druppels. Dis koud en van land toe gaan met Dinkie is
daar geen sprake nie, want as die reën jou nie gaan natmaak nie, gaan die effe
onstuimige see dit doen.
Son probeer deurbreek |
Reënvlae |
Dis die weerpatroon van die hele middag. Dis net
Gus wat nie weet waar hy vandaan wil waai nie. Dan waai hy wes, dan oos en tot ’n
klein klein bietjie suid (die boek sê die suidewind waai net twee keer in die
jaar hier by Erétria en dis in die winter?)
Baie laat die aand kom twee jagte in die donker
daar aan en gooi anker. Die een is te na aan ons en die ander jag en hy trek
anker op en gooi weer. Ek weet nie hoekom kom hulle so laat in ’n baai aan nie.
Ons slaap rustig in ’n sag-wiegende Maja.
No comments:
Post a Comment