Saturday, September 3, 2016

Kastellorizon, Griekeland.



2 September 2016. Vrydag.

Dis weer sukke tyd. Ons moet vandag uit Turkye uit want ons 30 dae visum is verstreke. Jy klok uit en hulle stempel jou paspoort. Dan moet jy ’n stempel van ’n ander land kry, in ons geval Griekeland. As jy dan weer terugkom in Turkye, is jy weer wettig vir nog 30 dae. Raar maar waar!

Die probleem is ons nog nie veerbootkaartjies het nie en ons “shuttle” boot vertrek eers 9:15 van Nuri's af en die veerboot vertrek 10:00. En ons moet nog ons paspoorte laat stempel. Gaan ons dit maak?

Ons kom 9:30 in Kaş aan en vra waar kry ons kaartjies. Die Turk by die hawepolisie verstaan g’n niks. Ek vra ’n man wat Engels lyk waar kry hulle kaartjies. Hy sê hulle hotel het alles gereël, maar hy weet mens moet die vorige dag jou kaartjies koop of bespreek en voor 9:00 jou paspoort ingee vir die stempel.

Wat nou gemaak!? Ons moet vandag gaan. Môre is ons onwettig, dan kry jy ’n hengse boete. Twee ander mense, ’n Amerikaanse meisie met ’n Turkse kêrel, help ons. Gelukkig kom die agent daar aan en die Turkse kêrel verduidelik ons penarie. Die agent is dadelik op sy selfoon en ’n minuut daarna kom ’n ander Turk op ’n motorfiets daar aangejaag en gryp ons paspoorte en daar trek hy.

Die agent sê vir Archie: ”You must pay me.” Archie betaal die €50. Ons het geen kaartjies as bewys ons het betaal nie. Nou is dit al 9:55. Gaan ons dit maak. Die ander veerboot na Kastellorizon se passasiers word geroep en hulle vertrek. Nou is dit ons veerboot se beurt. Die hawepolisieman staan met 'n pak paspoorte in sy hand en die name van die passasiers word een vir een gelees dan mag hulle aan boord stap. En jou waarlik, die twee laaste paspoorte is bekend groen en dit is ons. Ons het dit sowaar gemaak. Wat ’n verligting!

En Kastellorizon? Dis so tuis Grieks! O en ek lief Griekeland. Dadelik is daai “vibe” daar. Dis ’n ander wêreld.

Kastellorizon
Op die kaai

Dis ’n baie klein eiland. Dit is ook die vêrste oostelikste punt van Griekeland en van Europa. Dis 'n barre rotsklont net ’n paar myl van Turkye af. Hier woon net 300 permanente inwoners.

Barre rotsklont

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was die eiland onder Britse beheer. In 1944, net voordat die Britte die eiland verlaat het, het ’n brandstof en ammunisie depot ontplof en die helfde van die dorp is vernietig. Van die inwoners se besittings is gesteel.

Toe die mense na die oorlog teruggekeer het na die eiland, het hulle gevind dat hul huise vernietig is en hul besittings gesteel is. Die meeste inwoners het ge-emigreer na Australië en VSA.

Wel, die deel van ou Kastellorizon wat staande gebly het, is pragtig. Dit laat my aan Symi dink. Tavernas is oral en Griekse musiek speel. Dis net die eerste keer dat ek ’n kerk sien wat heeltemal verlate en verstote daar staan. My hart breek. Ek is mos ’n kerkmens!

Dolfyn standbeeld
Kastellorizon huise met Turkye in agtergrond
Verlate kerk
Blik oor hawe
Dwergbankie

Ons stap na ’n kerkie wat so amper in die water is. Al probleem is dat dit nie meer ’n kerkie is nie, maar iemand se kunsateljee. Toe ek ewe onwetend daar instap, trek die man gou sy klere aan.

Kerk of ateljee?

Daar is ’n ou kasteel hoog teen die heuwel en jy sien dan eers hoe mooi die baaie in die omgewing is.

Kasteel
Uitsig oor Mandraki Baai vanaf kasteel
Hawe

Ons geniet ons gedwonge kuier in Kastellorizon vreeslik baie. Terug by die veerboot vra niemand vir ’n veerbootkaartjie nie. As jou naam op die lys is, gaan jy aan boord. 

Op pad huis toe

Vanaand moet ons by die restaurant gaan eet omdat ons by die kaai vasgemeer is. Die kos is baie beter as Boynüz Bükü se kos en helfte van die prys. Ons eet ’n "red snapper" met slaai. "Lekker, maar nie so lekker soos tuisgebak," sê Archie.

No comments:

Post a Comment