Tuesday, August 23, 2016

Serçe Limanı.

21 Augustus 2016. Sondag.

Bozburun tot Serçe Limanı

Vandag is dit weer om die punt, Ala Burun. Hierdie punte kan moeilik en deurmekaar wees as Gus waai. Gelukkig gedra Gus hom deesdae al te ordentlik en ons vaar om die baai sonder enige probleme.

Ons gaan vandag na Serce Limanı, 36°34.617 N, 28°02.690 O, 15.8 myl. Die ander boek het baie te sê oor die baai. Charter bote mag nie die baai gebruik nie, want die houkrag is sleg. Gus kan hier met vlae en draaie inwaai. Ons was al twee keer vantevore hier en het nog glad nie probleme gehad nie. 

Serçe Baai
Mooi baai

Ons gooi anker in die baai en ons is bietjie te naby ’n gullet dat daar aan die land vasgemaak is. Solank die wind reg waai, sal daar nie probleme wees nie. As die wind van die noorde kom, sal ons in sy rigting waai en te naby kom. 

Ons voorrade raak min. Gulukkig het ons 'n blikkie tuna, een groot tamatie en n paar uie. Ek maak "Tuna a la Ansu". Sy het dit vit ons twee jaar gelede op Maja gemaak en dit was heerlik. Ek garneer dit met gekookte eier en 'n paar roketblare.

Tuna a la Ansu

Archie stel twee anker alarms. Mens weet nooit wat gebeur in die nag as mens slaap nie. Ek gaan slaap in elk geval op die dek om sake dop te hou. 03:00  draai die wind na noord ons ons kom nader aan die boot. Gelukkig draai Gus in sy spore om en waai weer suid-wes en ons dryf weer vêrder weg.

Ek slaap die hele nag met een oog oop.

Sonsopkoms

No comments:

Post a Comment