Tuesday, August 23, 2016

Çiftlik.



22 Augustus 2016. Maandag.

Serçe tot Çiftlik
 
Die oggend draai Gus weer en waai vanuit die noorde. Ons kom baie naby aan die gullet en Archie trek 20 m ankerketting in. Nou is ons net met 20 m in 10 m diep water geanker. Dis darem dag en Gus waai baie lig. Archie hou die sake dop. Ons maak klaar en vertrek na Çiftlik, 36°42.909 N, 28°14.275 O, 13.6 myl.

Op pad


Gus waai liggies en ons span nie seile nie. Ons vaar net vorentoe, altyd vorentoe. Daar is ’n paar groot ruwe rotse langs die pad. Om die draai en daar is Çiftlik. Ons het water nodig, so ons gaan na die restaurant kaai toe. Jy kry water en elektrisiteit gratis, want jy eet by die restaurant. Daar is selfs ’n stort. In plaas daarvan dat ons ten duurste vir ’n marina betaal, meer ons vas by ’n restaurant kaai en jy gaan eet die aand daar. So kry jy darem waarde vir jou geld.

Ons vaar in en Mehmet waai met die rooi vlag. Hy help ons om vas te maak en hier is ons, in Çiftlik. Ons gaan stap en die droë grond onder my voete is heerlik. Dis nog baie warm hier en na die stap swem ons. Die lou water koel jou nie af nie.


Çiftlik
Archie en die vullis
 
Çiftlik is ’n gelukkige plek. Hier swem en dryf almal lui-lui in die see rond. Of hulle sit op die strandstoele. Twee klein Turkse seuntjies met vlerkies aan die armpies stap op die pier en spring dan keer op keer in die water. Sonder moeg word. Weer en weer. Hulle druk ewe meisieagtig hulle neuse toe.

Boeties stap …
… boeties spring
 
Na ’n lekker stort trek ons aan en stap na Mehmet Place. Die eetplek is onder die bome en die hele familie werk saam. Mehmet is bietjie skeel en ek weet nie wanneer hy vir my kyk nie. Of kyk hy dalk vir Archie. Ek eet garnale en Archie eet ’n seekat bredie. Die kos was uit die boonste rakke.

Mehmet Place
Uiteet
Mehmet en sy dogter, Archie en sy seekatbredie
Garnale

Versadig en tevrede stap ons terug na Maja. Archie sê: ”Money well spend.”


No comments:

Post a Comment