Thursday, June 2, 2016

Lagonisi Baai.




1 Junie 2016. Woensdag.

Chalkis Baai tot Lagonisi
 
Ons word wakker en sien hoe ons ankerplek in die dag lyk. Baie anders as in die nag. Op is die anker en weg is ons. Noord, deesdae altyd noord.

Chalkis Baai in daglig

Archie is mos ’n man van die industrie, so vandag is spesiaal vir hom. Ons gaan anker by Lagonisi Baai, 38°35.257 N, 23°18.431 O, 16.8 myl . Die boek noem dit eintlik  die “Unnamed Bay”. Die plek het nie eers ’n naam nie. Dit sê baie.

Op pad soontoe seil ons vir ’n halfuur. Die kaptein wil deesdae verdomp net alewig seil. As Gus net waag om te waai, word daai seile gespan. Ek is dikmond, want ek is nie vandag lus vir seil nie.

Die baai is versteek agter al die visplase. Kan beswaarlik sien waar is die ingang van die baai. Ons vaar verby die visplase en sien die ingang. Dis maar goed lelik. Die volgende plek is 16 myl verder en ons is nie lus vir verder vaar nie, so ons gooi maar die anker.

Visplaas fabriek
 
Ons uitsig is die visplase en hul geboue en bote. En daar anderkant die koper-nikkel raffinadery. Dit het ’n skoorsteen wat heeltyd bruin rook uitblaas. En soms brand daar ’n vlam en dit raas heeltyd. Archie voel of hy weer by YSKOR werk.

Koper-nikkel raffinadery
 
Toe skielik toe ek al die bedrywighede miskyk, sien ek dat dit eintlik ’n baie pragtige baai is. Doer vêr is hoë berge, hier naby is ’n klein eiland en die wind waai glad nie. Ek sit en bekyk die bedrywighede wat aan die gang is en geniet die rustige aandword.

Lagonisi Baai




No comments:

Post a Comment