Wednesday, May 18, 2016

Portocheli. Seildag.



17 Mei 2016. Dinsdag.

Ek word by Shiree op Gumnuts afgelaai en daar gaan Maja sonder my. Archie en Martin gaan seil.

Na sowat ’n uur is hulle terug. Hulle wil later weer gaan as die wind sterker waai. En die keer word ek opgekommandeer om saam te gaan. Ons wag en 13:20 is die wind lekker sterk en daar gaan ons. Die seile is al op nog voordat ons uit die baai is. Ek is agter die helm en Archie span en verstel die seile onder Martin se toesig.  

Twee kapteins - Martin en Archie
Kaptein Archie

Eers die hoofseil en dan die genoa. Dan word die seile gereef, kleiner gemaak. Gus waai lekker en ons spoed is meer as sewe knope. Ons beweeg. Die seile word verstel en ons verander van rigting. Dit is eintlik so eenvoudig. Ons seil ’n ruk net met die genoa. Dan is die hoofseil weer op en ons seil met verkleide seile teen ’n heerlike spoed. Ons seil in die baai en laat sak die seile. Ons het so baie geleer.

Nou is daai manne in hulle element en wil net seil. Shiree word op die radio geroep en word aangesê om Gumnuts “ship shape” te kry, want hulle wil weer gaan seil. Ons gooi anker en vas is Maja.

Ek probeer nog verskoning soek om nie saam te gaan seil nie. Ek sê ek moet gaan kook vir die aand. Gumnuts se mense kom by ons eet. Maar geen verskonings word aanvaar nie en daar trek ons. Gumnuts seil uit die baai en Martin en Shiree werk saam soos geoliede wiele. Hulle het allerhande elektriese wenasse (“winches”), maar hulle weet wat hulle doen dit. Ek en Archie observeer net.

Ons seil ’n ruk en draai om terug baai toe. Ek is mos nie eintlik iemand wat net gou ’n entjie vir die lekkerte gaan seil nie. Dit was ’n uitstekende leerskool! Na ’n nattigheid oor die lippe vra ek vir Shiree om my terug te neem na Maja. Ek moet kook vir die aand. Archie kuier nog. Magtig, maar is ek moeg. Ek val op die bank neer en slaap gou vir twintig minute voor ek begin kook.

Die gaste daag op en ons eet ons laaste maaltyd saam. 

Laaste maaltyd


Ons gaan hulle eers in Augustus weer sien en ons groet soos familie. Altyd te gou koebaai.

No comments:

Post a Comment