Wednesday, May 18, 2016

Portocheli.



16 Mei 2016. Maandag.

Ermioni tot Portocheli

Almal op die kaai is verlig. Die ankers het gehou! Op is die anker en weg is ons. Ons vaar by die baai langs en groet vir Gumnuts. Hulle sal ons in Portocheli, 37°19.309 N, 23°09.199 O, 14.5 myl, kry. Ons moet uitkyk vir die moderne houtboot en naby haar anker gooi. Dis maar ’n doodgewone pad soontoe, niks vreeslik besonders nie. 

Op pad

Portocheli is ’n groot baai. Daar is plekke vir horde bote. Ons soek die houtboot. Kyk en kyk weer totdat ons een sien wat amper lyk of dit ’n moderne houtboot kan wees. Ons kry alles gereed en gooi anker. Ons wonder nogal hoekom Gumnuts spesifiek die plek uitgekies het. Dis baie vêr van die dorp af. Die anker byt pragtig en toe kyk ons mooi na die houtboot. Die naaste wat ons daaraan kon kom, is ’n geroeste ou staalboot. 

Die houtboot?


Later die middag kom Gumnuts ingevaar. Hulle mik na ’n totaal ander rigting in die baai. Later kom hulle ons rigting. Hulle het lekker gelag vir ons houtboot en hulle houtboot kom toe later eers in die baai ingevaar. Dis hoekom ons dit nie kon vind nie. Dit was nie in die hawe nie! Ons spot nou nog oor die “houtboot”.

Hulle het ons genooi vir skemerkelkies en aandete op Gumnuts en ons span vir Dinkie in om ons daarheen te neem. Ons kuier ’n hond uit ’n bos, vrolik en uitgelate. Gumnuts is ’n pragtige ruim 48 voet seiljag en uitstekend toegerus. Baie spasie! Maja voel skielik vir my baie klein. Ons het baie pret op die dek en die skaterlag weerklink in die baai.

Ek en Shiree
Maja en Gumnuts se mense
Pret op die dek

Toe die dag begin opraak en die skemer om ons vou, braai Martin vark souvlakis en Shiree maak slaai. Daai vleis is sappig en geurig. Die geselskap is goed en dit is genoeglike aand. Baie laat  neem ons die spane op en begin terug te roei na ons kleine Maja. Martin lig op Maja dat ons darem weet waarheen om te roei.

Vark souvlakis
Smaaklike ete

Die manne het ’n seilafspraak vir môre. Archie en Martin gaan op Maja uit en die ervare man gaan vir Arch ’n paar fynere puntjies van seil uitwys.

1 comment:

  1. Halo julle! Ai dis lekker dat julle nou al jul eie vriende daar opbou. Gumnuts lyk lekker ruim. Archie moet d seilery saam met Martin geniet. Eks seker hy gaan n paar goed leer. Hulle seil mos al vir baie jare. Lekker dag xxxE

    ReplyDelete