Thursday, May 1, 2014

Patra. Seesiek.

29 April 2014. Dinsdag

Sewe maande in Suid-Afrika het verbygesnel. Archie het homself besig gehou, hoofsaaklik met die omskakeling van die blog tot boek. Ek het weer gaan skool hou en hartstogtelik lief geraak vir my spesiale klas by Sonlandpark.

Toe skielik was dit tyd om te groet. Ons het omtrent afgeskeid, saam met vriende, saam met vriendinne, saam met familie, waar ons die boek bekendgestel het.
Jammer, al die eksemplare van die eerste uitgawe is reeds uitverkoop (die volle agt van hulle).


Bekendstelling van die boek

Die familie groet. (My ma en pa sit langs my)

Na tien ure se vlieg na Parys en drie ure se vlieg na Griekeland en nog drie ure se busrit na Patra,was ons weer voor Maja se deur. Sak en pak!

Die wind waai en dis koud. Dit skommel en wieg op Maja. Ons lywe is moeg en koppe draai van die heen en weer en op en af gekantel van Maja en toe word ons... seesiek.

Ek het op die bus al effe naar gevoel, nadat ons al die Whispers (wat my ma saamgestuur het vir my verjaarsdag, wat eers in Julie is), opgeëet het. Ek het skelmpies 'n seesiekpil gedrink. Ek dog die seesiek is my verbeelding en verswyg dit, want nie een van ons het die vorige seisoen eers amper seesiek geword nie. Ek voel soos hond en sê vir Archie ek gaan 'n  bietjie lê, want ek is moeg. Hy woel en werskaf en sê toe skielik hy voel vreeslik sleg en hy dink hy is seesiek! Ek besef toe ek kan maar met die waarheid uitkom - ek ook!

Toe gaan ons dorp toe vir voorrade én om van Maja af te kom. Miskien het sy  gewieg van vreugde om ons weer te sien! Na ons terugkoms, was die seesiek gelukkig weg. Ons was poot-uit en het gaan slaap.

1 comment:

  1. Halo daar! Eks bly julle het veilig by Maja uitgekom en dat die seesiek nie te lank aangehou het nie. Julle was seker baie bly om Maja weer te sien, hopelik in n baie goeie toestand. Ek hoop julle kom more gou reg met al die papierwerk oor die seilery. Liefde xxxElize

    ReplyDelete