14 Mei 2019. Dinsdag.
 |
Knidos tot Bodrum |
Bodrum
drum drum. Dis 'n besige plek waarheen ons vandag gaan, 24 myl. Nie een
van ons gunsteling plekke nie, maar ons moet weer swartwater uitpomp.
So, ons gaan nie uit vrye wil soontoe nie.
Sullivan
vat ouder gewoonte die helm oor. Dan sit hy heerlik agter die stuur en
hou sy lyf kaptein. Dit doen hy alles met 'n tevrede uitdrukking op sy
gesig. En die regte kaptein, is dan net so effe verveeld en maak vir ons
dan lekker tee. So vaar ons vorentoe, altyd vorentoe.
 |
Oggendskoot - Rimpel dimpel |
Ons
sien ons eerste dolfyne van die seisoen. Skaam en skugter en wys net
vir ons die puntjies van hul vinne. Maar dis altyd lekker om dolfyne te
sien. Ou Sullivan sit hulle agterna, maar dan verdwyn hul net na die
anderkant toe. Hulle is verseker nie vandag lus vir mensekinders nie.
Ons
vaar verder en besige Bodrum kom al nader. Ons laat eers die swartwater
uitpomp by Bodtum Milta Marina en toe gaan soek ons ankerplek in die
groot baai met die kasteel wat nou herstel word.
 |
Bodrum Baai |
 |
Bodrumkasteel vanaf ankerplek |
 |
Bodrum Baai |
Sullivan
gooi anker, maar die ding byt nie. Toe hy dit optrek, sit groot ry
toiletpyp aan hom vas. Na bietjie sukkel, val die swaar pyp af en hy
gooi weer. En dié keer byt die anker en ons is vas.
Later
gaan ons drie land toe en maak vir Dinkie aan 'n swaar sambreelstaander vas dat sy nie kan ontsnap nie. Ons stap heerlik rond en geniet die atmosfeer. Daar is winkels met alles en nog wat. Hierdie is behoorlik 'n
kopersparadys en Sullivan koop 'n geskenk vir sy vrou. O, hier is 'n
klomp items wat ek graag vir myself sal wil koop. Rokke en bakke en
lappe en sakke en vadoeke en en en. Maar nou ja ek is maar net die seilende sigeuner. Ek kan nie alles koop wat my oë sien nie!
 |
Kasteel |
 |
Standbeelde |
 |
Sullivan en Archie |
Ons eet roomys op 'n bankie en stap verder na die supermark waar ons voorrade aanvul. Hoender vir die vleis-lus en vars groente en vrugte vir skeurbuik. En stap swaar gelaai terug na Dinkie.
 |
Appelliefies vir my pa |
Die
makkers gryp vir Dinkie. Een aan die een kant en een aan die ander
kant. Maar daai bootjie is swaar. Loodswaar! Toe sien ek wat is aan't
gebeur. Die twee makkers het nooit vir Dinkie losgemaak van die swaar
sambreelstaander waaraan sy vasgemaak is nie en dié twee trek dit
agterna. Ek bars uit van die lag en die twee mans van die restaurant wat
dit gesien het, lag net so lekker! Die sonbaaiers kyk en lag ook. En ons lag saam. Dis
nou behoorlik Laurel en Hardy! Hulle bevry vir Dinkie, ons klim en vaar
terug na ons waterhuis asof ons nie nou net ons naam effe gat gemaak het nie. Heerlike kykgenot vir die toeskouers!
Ag,
hiedie Bodrum is darem nie so sleg nie. Ons het die dag nogal geniet.
Later die aand word Bodrum weer drum drum drum. Regte nagklub partytjie
plek. Gelukkig is dit nog nie binne seisoen nie, so daar is net enkele
plekke wat drum drum drum.
 |
Nagskoot |
See you next Saturday! we can't wait to join the fun. Happy sailing till then.
ReplyDeleteLooking forward to it!
Delete