Saturday, August 3, 2019

Singitikos Skiereiland. Nikiti weer.

31 Julie 2019. Woensdag.

Nea Moudhania tot Nikiti






Vandag gaan ons na Nikiti, 19.4 myl. Dis ook Pierre en Annatjie se nooiensvaart. Hulle sit agter by Archie en hy gee hulle 'n lesing. Hulle ontmoet al die instrumente.

Nooiensvaart
 
Toe moet ons weer onder deur die  Portas brug vaar. Pierre en Annatjie se taak is om seker te maak ons gaan deur. Maja se mas troon hoog bokant die brug uit. Dit lyk kompleet of ons gaan tref. Annatjie sê benoud vir Archie dat hy moet stop. Pierre tuur gemaak-kalm in die lug. Mond effens oop (en seker baie droog). Ons is deur. Hulle was net so benoud soos wat ek twee dae terug was.
 
Oggendskoot - Portaskanaal brug
Gemaak-kalm
"Stop Archie!"
 
Pierre gaan lê bietjie skuins. Hy is moeg, die want die vorige nag het die tieners weer tot laatnag by hulle kamervenster gekuier. 

Annatjie kry die helm om te beman en ons prrr vorentoe. Altyd vorentoe. Die see is 'n spieël. Die berge lê duinserig in die vêrte. Geen dolfyne verskyn aan ons nie. 

Ons nader Nikiki se semi-marina en Kostas wys die plek aan. Met almal se hulp, maak ons sonder skande vas. Archie tru, ek gryp die boei waaraan die snoettou is. Pierre keer af en help om die snoettou te trek. Later help hy met die agtertou. Annatjie is op 'n gereedheidsgrondslag om te kyk waar moet sy afstoot. Die buurman op die kaai help om die agtertou aan die land vas te maak.
 
Nikiti
 
Toe is dit Annatjie se belangrikste taak om koue dankies te skink. Almal sit hulle bestellings in en Annatjie skink. Dit is snikheet en die koue drankies gaan goed af. 

Ons stap later om Pierre se geld by Western Union te gaan haal. Die arme man is mos beroof. Sy kredietkaart, geld en alles. Nou het hy weer geld. (En wil dadelik koffie drink.)

Na 'n paar inkopies stap ons na die viswinkel om garnale te koop. Maar helaas, die viswinkel is toe en maak eers 18:30 oop. Pierre en Annatjie stap solank na Maja toe en ek en Archie wag dat die winkel oopmaak. Ons almal se monde water as ons aan daai garnale dink. Maar die winkel maak toe nooit oop nie. Geen garnale vandag vir ons nie.

Die aand gaan eet ons toe maar gyros. Ons word by die eerste gyros restaurant totaal geïgnoreer. Niemand wil ons help nie. Ons staan toe op en loop na die volgende een toe. Die vriendelikste meisie help ons. Wonderlike diens. Ons eet lekker. Dis darem goeie waarde vir geld. En so goedkoop.
 
Uiteet
Annatjie en Pierre
Vriedelike kelnerin
Ons vier

No comments:

Post a Comment