Thursday, July 25, 2019

Sinthonia Skiereiland. Porto Koufo.

21 en 22 Julie 2019. Sondag en Maandag.

Mesopanayia Baai tot Porto Koufo

Dis weereens heerlik stil in die baai en ek is teensinnig om te vertrek. Ai, ek geniet hierdie veilige, stil baaie. En die nagte is nie so warm soos op die eilande nie. 

Wel, dis tyd om te vertrek na ons nuwe bestemming. Miskien is dit Sykia. Of Kalamitsi. Ons sal maar kyk.

Oggendskoot - verdonker

Archie neem ons deur die vlak water en daar trek ons. Die wind is stil, maar die deinings groot. Hulle kom van vêr af  aangerol, vandaar waar die Meltemi so erg waai. 

Ons sien twee dolfyne aangeswem kom. Hulle kom speel saam met hul ousus. Wat 'n mooi gesig.

Dolfyn
Dolfyne

Toe vaar ons verder. Ons kom by Sykia, maar daai deinings rol reg in die baai in. Hier kan mens nie oornag nie. En ons vaar vorentoe, altyd vorentoe. 

Kalamitsi is net so erg. Nie skuiling vir groot deinings wat van die ooste kom nie.  Wat 'n kort dag moes gewees het, word nou al hoe langer. Ons gaan nou maar vir  Porto Koufo, 30.5 myl, probeer. Dis ten minste om die hoek. Die deinings sal nie daar kan uitkom nie.

Kalamitsi

Gus waai effens en ons span seil, net sodat Maja nie so moet rondrol nie. Dit help mos altyd. Later waai Gus reg van agter en die genoa klap. Ons rol dit in en skielik is die deinings baie kleiner. Snaakse see hierdie. Hier is deinings van die ooste én van die noorde op dieselfde tyd.

Ons vaar om die hoek en draai by Porto Koufo se ingang in. Dit is 'n geslote baai, 'n baie goeie natuurlike hawe. Dis net sterk suidewinde in die winter wat die hawe gevaarlik kan maak.

Psevdhokavos Kaap
Porto Koufo

Ons kry 'n ankerplek en gooi in 12m water anker. Hy byt, maar ons is nie heeltemal tevrede met die plek nie, trek op, gooi weer en toe is ons tevrede.

Hierdie is 'n deurmekaar plek. Weet nie eintlik waar jy oral kan vasmaak nie. Jagte kom en meer op die snaakste plekke vas. Ons kyk behoorlik fliek. Soveel aktiwiteite in die baai!

'n Groot motorjag kom in en probeer oral inwurm. Sonder sukses. Al die spasies is te klein. Hulle het heel waarskynlik êrens probeer anker, want hulle anker het 'n seegrasbaard waarvan hulle totaal onbewus is. Al die seilers kyk daai baard so en lag lekker. Die vrou kom later agter daar is iets op haar anker en maak dit skoon. Hulle vaar toe maar weg na wie weet waar.

Mense werskaf op hulle jagte. Families ry met hulle fietse rond. Vakansiegangers swem en lê op die strande.  Nog jagte kom in en maak op die snaakste plekke vas. Dis nou behoorlike kykgenot.

'n Groot vistreiler kom ingevaar. Daar staan 'n seiljag op sy plek. Dié moet vinnig wegskuif sodat ou grote kan inkom. Daar is sommer 'n groot klomp bemanning aan boord. Hulle het nou klaar visgevang vir 'n ruk en die manne kom huis toe. Almal vat hulle rugsakke en verdwyn in die dorp.

Ons geniet ons kuier in Porto Koufo en vier dit met 'n heerlike vars vis wat ek vir ons braai.

Ankerbaard
Elke buk 'n meesterstuk
Fietsry familie
Vol kaai
Vistreiler
Vissermans

No comments:

Post a Comment