Wednesday, July 31, 2019

Thermaïkos Kolpos. Nea Moudhania.

29 en 30 Julie 2019. Maandag en Dinsdag.

Yerakini tot Nea Moudhania

Na 'n vreeslike gehop in die nag breek die dag uiteindelik aan. Ons staan op en ons altwee sien maar bedremmeld daar uit. Die anker word opgetrek en ons vertrek na Nea Moudhania, 10.5 myl.

Ons moet vandag onder die  Portas brug deurvaar. Ons hoop net ons kleine Maja se mas is laag genoeg dat ons onder die lae brug kan deurkom.
Portas Kanaal brug

Sommer gou is ons daar. Ons kyk daai brug so en dit lyk maar laag. Ons nader die kanaal en dié is maar vlak. Archie hou goed koers en ons kom by die brug. Ons gaan dit tref! Maar ons is deur. Ons kyk op en kan dit nie glo dat ons veilig deur is nie.
Gaan ons pas?

Toe is dit net 'n hanetreetjie en ons kom by die hawe. Dit is maar 'n deurmekaar spul. Die pier waar ons moet vasmaak, is stukkend. Seker in die onlangse storm beskadig. Gelukkig vertrek die engiste seilboot in die hawe en ons het 'n plek. Ons deel die hawe met vistreilers en klein vissersbote en nog ander lelike bootjies.
Vistreiler …
… se manne aan die werk
Hawe

Hemel, maar hierdie is die lelikste Griekse dorp wat ek nog ooit in Griekeland tydens ons seil besoek het. Die hawe se kragbokse is geplunder. Ou vergete bootjies is hier vasgamaak.

In die aand kom al die tieners van die dorp op die pier kuier, op ons voorstoep. Hulle drink, lawaai en skreeu. O ja, én vry. Geen respek vir die bote nie. Trek aan Maja, klim op die ander bote. Ek lê tot 01:00 om vir Maja op te pas. En skielik is hulle almal weg.

Vandag kom Pierre en Annatjie en gaan dan vir twaalf dae saam met ons seil. Alles is reg vir hulle koms en skielik is hulle hier. Moeg en uitgeput en warm. Hulle klim op Maja en dis net tasse en rugsakke.

Uiteindelik is hulle hier vir hul eerste seilvakansie. Ons gaan dorp toe en besoek die pragtige kerk. Dit is die kerk van St. George en het die mooiste kloktoring en mosaïek. As kerkmens is dit vreeslik mooi vir my. Miskien mooier as vir die ander lede van die geselskap (wat eintlik glad nie aandag aan die kerk gee nie). Ons loop lekker langs die see terug. Ai, die ou lelike dorp word nou vir my al hoe mooier.
Hier is hulle
Welkom julle
Klim aan boord
St George Kerk
St George en die draak
Ekke
Pierre en Annatjie
Buitekant
Langs die see
Annatjie, Archie en Pierre

Ons eindig die dag af met 'n skemerkelkie saam met goeie vriende en 'n aandete wat bestaan uit lekker vis en slaai. 

Skemerkelkie

Monday, July 29, 2019

Toronaios Kolpos. Yerakini Baai.

28 Julie 2019. Sondag.
Nikiti tot Yerakini Baai
Gisteraand het die son vir oulaas dramaties mooi gesak op die laaste dag hier by my veilige hawe, Nikiti. Gaan die malhuis vol mense mis.
Nikiti - vorige aand
Ons vertrek na Yerakini, 11 myl waar ons gaan anker. Ons verwag bietjie suidewinde wat die ankerplek maar hopladi hoplada gaan laat hop. Ek hou maar my snater, want ons het vier nagte in die hawe gebly.

Ons gooi in 8m anker, waar die modder begin en die seegras eindig. Die anker byt lekker stewig en ons is reg vir die gehop, wat later gaan kom. Ons is hier in die noordelikste deel van die skiereiland en die boek sê die weer affekteer nie die baai nie. Dis net die deinings wat kan inrol as die wind in die ander dele van die golf waai. Meer ongemaklik as gevaarlik.

Die kaptein neem die snorkel en bevestig dat die anker regtig goed gebyt het. Môre gaan ons onder deur die Portas Kanaal brug vaar. Die brug is tussen 16 en 18 m hoog. Elke bron gee 'n ander hoogte. Maja se mas is 15. iets m hoog, (sommige specs sê 15.1m ander sê 15.4m) vanaf watervlak. So, ons behoort dit te maak.
Yerakini Baai
Ons gaan ook nie die eerste skiereiland besoek nie, want aan die westekant is daar net Sani Marina, teen €120 per nag en nog 'n hawe. Nie baie skuilplek op daai skiereiland nie.

Wel, dit hét gehop in die baai. Golwe van 2m tot 3m hoog het hier ingerol, klein begin en geleidelik groter geword. Toe na middernag weer  geleidelik kleiner begin word. Maar nooit opgehou  nie. Dit het my baie moerig gemaak.

En "back at the ranch", dis nou in Athene, beroof die sakkerollers vir Pierre. Dit was by 'n voetoorgang. Hy het 'n mansak oor sy skouer gedra. Hy het 'n stamp gevoel en toe bietjie later weer 'n stamp. Minute later het hy gesien dat sy sak se ritse oop is. En sy wallet is weg! Met 'n klomp vakansiegeld, al sy kaarte, bestuurslisensie. Die bliksems! Gelukkig nie die paspoorte nie. 

Wat 'n uiters aaklige dag!

Saturday, July 27, 2019

Sinthonia Skiereiland. Nikiti.

24 tot 27 Julie 2019. Woensdag tot Saterdag.

Porto Koufo tot Nikiti
 
Ons moet 'n hele paar dae in die omgewing oorbly en wag. Ons moet vir Pierre en Annatjie eers Dinsdag kry en ons is baie naby Nea Moudhania, waar ons hulle ontmoet. Nou verwyl ons maar die tyd, en hopenlik by Nikiti, 14.5 myl.

Ons trek anker op en vertrek. Wil gou kyk hoe lyk Nea Marmara. Die storm van twee weke gelede, het vir Nea Marmara getref.
 
Nea Marmara
 
Ons vaar in om te kyk hoe dit daar lyk, maar daar is nie eintlik plek nie. Dit bied ook nie skuiling teen suidewinde nie, en raai watter winde gaan die plek tref?!  Suidewinde, net vir 'n kort tydjie in die middag, maar redelik sterk. Ai, ek wil so graag veilig voel, maar dan is Nea Marmara nie die plek vir my nie. Hulle breekwater is ook beskadig deur die winterwinde, en is nog steeds stukkend. So, dit kan ook nie help om die suidesee hier uit te hou nie. Toe vaar ons uit die hawe en gaan na Nikiti.

Ons kom daar aan en die plek lyk soos 'n tipe marina. Maja vaar onseker vorentoe. Weet nie eintlik waarheen om te gaan nie. Almal het vasmaaktoue (laid lines). Toe wink twee engele op die kaai vir ons. Daar is plek!  Hulle vasmaaktou is aan 'n boei vas. Ek staan onseker met die boothaak om die boei te gryp. Het dit nog nooit gedoen nie. Die eerste grypslag is mis. Boothaak te kort. Ek gaan staan in die middel van Maja en toe kom ek die boei maklik by. Ek het die snoettou, 'n ou dikke, en maak dit vas. Die engele help agter en ons is vas en veilig hier in Nikiti. En hier is diesel, krag en water.
 
Vas in Nikiti
 
Hierdie is 'n plek soos Margate. Duisende vakansiegangers. 'n Feestelike vrolike atmosfeer heers hier. Lywe lê en sonbaai, ander swem en speel met balle. Kinders bou sandkastele. Ja, hier is sand! Dit eet en drink. Dis Grieke, Bulgare, Russe, Serwiërs, Romieniërs, Hongare. Al die Oos-Europese lande word hier verteenwoordig. Klink na die toring van Babel, al dié vreemde tale.
 
Strand
Kerk by hawe
Blomblik skilder
 
Nikiti het 'n ou dorp en ons stap die 2 km soontoe. Bo is die begraafplaas en dié mense word oud! Meeste van hulle was bo tagtig toe hulle dood is. Die groot bruin kerk staan op die hoogte.

Ons sien vêr van hier af, tot by die Kassandra Skiereiland aan die oorkant. Nikiti se huisies lê rooidak-mooi onder ons. Met die allermooiste skoorstene!
 
Kerk binne
St. Nikiti kerk
Ou huise
Skoorstene
Ou huis
 
Die Folklore Museum is ongelukkig nog toe en ons stap deur die dorp. Die huise en straatjies sou Elize se hart gesteel het, al is dit net 700 jaar gelede gebou. Ons drink koffie by een van die min restaurantjies (peperduur) en stap verder. Die stap is vir ons heerlik. Stap bly maar steeds my eerste liefde. Met die terugtog loop ons by die viswinkel verby en swig voor die vars garnale.
 
Folklore Museum
Drink koffie
Naamborde
Smullekker
 
Nikiti het 'n mark en Vrydag is markdag! Ons stap soontoe en dit wemel van mense. Almal koop sakke vol vars groente en vrugte, neute, kaas, vleis, vis. Alles waaraan jy kan dink, is hier te koop. Ook klere en ander goed, waarin ons glad nie belangstel nie. Nee, ek verlustig my aan die kosafdeling. Ons koop kersies, vrugte, groente, neute, feta en hoender. Hier is ook bossies roketblare! Vanaand berei ek 'n feesmaal!
 
Ons gaan tot Sondag hier by Nikiti bly.
 
Mark
Mark
 

Thursday, July 25, 2019

Sinthonia Skiereiland. Ag.Kyriakh Baai.


23 Julie 2019. Dinsdag.

Porto Koufo tot Ag. Kyriakh Baai.

Snaakse plek, hierdie noordelike Griekeland. Nie baie veilge baaie en ankers nie. Die wind waai nie erg nie, maar daar kom altyd deinings in die baaie gerol. Ons groet Porto Koufo en vaar verder.

Porto Koufo

Ons kyk eers na Vathy, maar oop suid en die deinings kom van die suide. Vaar verder. Gooi anker by Spalathronitsia. Snaakse bodem met rotse, seegras en sand. Eerste tref ek die sankkol, die anker byt pragtig, maar daar is rotse naby. Ek trek maar weer op. Kaptein is bang ketting koek aan die rotse vas. Gooi weer. Pragtige sandkol en anker byt. 

Die suide-deinings begin inrol en ons trek maar weer anker op. Ons het gesien dat bote by 'n baai naby ons invaar en nie uitkom nie. Die baai word nie in een van ons twee boeke genoem nie. Navionics het 'n opmerking by die baai,  "hidden treasure". Wel, ons trek anker op en vaar soontoe, net 2 myl verder. En jou waarlik! Daar is 'n pragtige baai, 13.1 myl van Porto Koufo. Ons kry 'n plek en gooi anker in die mooi baai.

Die erge windstorm wat noord Griekeland so twee weke gelede getref het, moes ook hier deurgekom het. Oral is bome ontwortel en gebreek.

Windskade

Ons deel die baai met 'n groot motorjag en 'n motorboot. Albei vertrek later en ons is alleen in die baai. Deinings van die weste kom ingerol, maar dis darem nie te erg nie en gedurende die nag, word die baai doodstil.

Laatmiddag
Waterskiër

Sonkring


Sinthonia Skiereiland. Porto Koufo.

21 en 22 Julie 2019. Sondag en Maandag.

Mesopanayia Baai tot Porto Koufo

Dis weereens heerlik stil in die baai en ek is teensinnig om te vertrek. Ai, ek geniet hierdie veilige, stil baaie. En die nagte is nie so warm soos op die eilande nie. 

Wel, dis tyd om te vertrek na ons nuwe bestemming. Miskien is dit Sykia. Of Kalamitsi. Ons sal maar kyk.

Oggendskoot - verdonker

Archie neem ons deur die vlak water en daar trek ons. Die wind is stil, maar die deinings groot. Hulle kom van vêr af  aangerol, vandaar waar die Meltemi so erg waai. 

Ons sien twee dolfyne aangeswem kom. Hulle kom speel saam met hul ousus. Wat 'n mooi gesig.

Dolfyn
Dolfyne

Toe vaar ons verder. Ons kom by Sykia, maar daai deinings rol reg in die baai in. Hier kan mens nie oornag nie. En ons vaar vorentoe, altyd vorentoe. 

Kalamitsi is net so erg. Nie skuiling vir groot deinings wat van die ooste kom nie.  Wat 'n kort dag moes gewees het, word nou al hoe langer. Ons gaan nou maar vir  Porto Koufo, 30.5 myl, probeer. Dis ten minste om die hoek. Die deinings sal nie daar kan uitkom nie.

Kalamitsi

Gus waai effens en ons span seil, net sodat Maja nie so moet rondrol nie. Dit help mos altyd. Later waai Gus reg van agter en die genoa klap. Ons rol dit in en skielik is die deinings baie kleiner. Snaakse see hierdie. Hier is deinings van die ooste én van die noorde op dieselfde tyd.

Ons vaar om die hoek en draai by Porto Koufo se ingang in. Dit is 'n geslote baai, 'n baie goeie natuurlike hawe. Dis net sterk suidewinde in die winter wat die hawe gevaarlik kan maak.

Psevdhokavos Kaap
Porto Koufo

Ons kry 'n ankerplek en gooi in 12m water anker. Hy byt, maar ons is nie heeltemal tevrede met die plek nie, trek op, gooi weer en toe is ons tevrede.

Hierdie is 'n deurmekaar plek. Weet nie eintlik waar jy oral kan vasmaak nie. Jagte kom en meer op die snaakste plekke vas. Ons kyk behoorlik fliek. Soveel aktiwiteite in die baai!

'n Groot motorjag kom in en probeer oral inwurm. Sonder sukses. Al die spasies is te klein. Hulle het heel waarskynlik êrens probeer anker, want hulle anker het 'n seegrasbaard waarvan hulle totaal onbewus is. Al die seilers kyk daai baard so en lag lekker. Die vrou kom later agter daar is iets op haar anker en maak dit skoon. Hulle vaar toe maar weg na wie weet waar.

Mense werskaf op hulle jagte. Families ry met hulle fietse rond. Vakansiegangers swem en lê op die strande.  Nog jagte kom in en maak op die snaakste plekke vas. Dis nou behoorlike kykgenot.

'n Groot vistreiler kom ingevaar. Daar staan 'n seiljag op sy plek. Dié moet vinnig wegskuif sodat ou grote kan inkom. Daar is sommer 'n groot klomp bemanning aan boord. Hulle het nou klaar visgevang vir 'n ruk en die manne kom huis toe. Almal vat hulle rugsakke en verdwyn in die dorp.

Ons geniet ons kuier in Porto Koufo en vier dit met 'n heerlike vars vis wat ek vir ons braai.

Ankerbaard
Elke buk 'n meesterstuk
Fietsry familie
Vol kaai
Vistreiler
Vissermans