Sunday, June 9, 2019

Kos Eiland. Kos Marina.


6 Junie 2019. Donderdag.

Kamares Baai tot Kos Marina
Roete tot op datum

Ons gaan vandag na Kos Marina, 25.4 myl. Dit is die laaste bestemming vir die Fallers op gul seilavontuur.

Almal kry 'n beurt agter die helm, tot MJ. Sy hou haar oog op al die instrumente en sien die diepte is 6m. Die Navionics se roete gaan deur die vlak water. Ek spring agter die helm in en stamp my bobeen baie seer teen die helm en vaar ons na die dieper water, wat net 'n paar meter regs van Navionics se roete is. Ek weet nie hoekom moet ons deur vlak water ry, as mens veiliger deur bietjie dieper water kan vaar nie. Toe stry ek die kaptein oor Navionics dat die kranse antwoord gee. (Ek kry so 'n groot bloukol op my bobeen wat ek kan inskryf vir 'n bloukol-kompetisie)
MJ agter die helm
Paddy se beurt
Kos kranse

Ons gooi eers diesel in en toe is dit Marina toe. Die marinero staan gereed om ons te help en met sy dinghie te stamp as dit nodig is, maar die kaptein tru meesterlik in. Hulle vat eers die agtertoue, maak vas en toe is dit die snoettou. Vas en veilig. MJ skink die laaste koue drankies as beloning vir 'n laaste suksesvolle vasmeer.

Paddy en MJ vaar dadelik die dorp in en verken die hele Kos. Ek en Archie gaan ook dorp toe en Archie handel al die formaliteite af. Haal die Fallers van die bemanningslys af en laat ons transit log stempel.

Hier in die marina is baie aktiviteite. Almal is besig. Wasgoed word ingegee. En veral die kaptein en Paddy is besig. Die twee wit ligte op die mas is stukkend en Archie wil dit regmaak. Hy is mos Mr. Fixit. Paddy hys hom teen die mas op en Archie bobbejaan boontoe. MJ kyk benoud toe hoe Archie teen die mas opgaan. Dis gelukkig net halfpad teen die mas op. Hy sukkel bietjie met die een lig en toe werk dit weer. Paddy laat hom effe senuagtig sak. Hy wil nou hê die kaptein moet hom moer toe val nie. MJ slaak 'n sug van verligting toe Archie veilig onder is.

'n Ou priester of iets kom aangestap. Sy rok wapper in die wind. Hy het vis lokvalle in die water en trek een vir een op en kyk angstig na die vangs. Ek dink die monikke gaan vandag honger ly.

Paddy moet vandag gaan uitvind van waar hulle veerboot môre na Bodrum vertrek. Die slim MJ raai hom toe aan om 'n fiets te huur. Hierdie dorp is bekend vir fietsry. Oral is fietsry paaie. Paddy gaan huur die fiets en ry oral rond. Later kry MJ ook 'n buurt en ons hoop toe net sy doen nie 'n "Marelize" nie. Maar MJ weet wat sy doen en val nie!

Ou Archie leen ook die fiets en ry gou supermark toe. Ai, hulle is soos regte kinders. Geniet die fietsry vreeslik.

Die gawe Fallers koop vir ons 'n nuwe mat vir Maja. "Baie dankie julle. Dis vreeslik mooi!" 
 
Maak ligte reg
"My fok, Mary-Jane"
Winkel toe
Visser van mense
Dankie vir die mat

Die son sak in die weste en die dag gaan heen. So kom die Fallers se laaste vaart tot 'n einde. 

Die dag gaan heen




No comments:

Post a Comment