Wednesday, June 26, 2019

Samos Eiland. Pithagorion.

24 Junie 2019. Sondag.

Port Augusta tot Pithagorion
Elize sê so ewe sy wil die oggendstond geniet voor ons vertrek. Maar hierdie oggendstond het wind in die mond. Toe sit sy maar binne.

Ons vertrek na Pithagorion op Samos Eiland, 24.2 myl. Ons verwag wind en geen dolfyne. So kry elkeen maar 'n beurt agter die helm. En ons vaar vorentoe, altyd vorentoe.
Oggendskoot - Rimpel dimpel
Elize se beurt
Elize en Martie hou van dorpskaaie, daar gaan ons, reguit dorpskaai toe. Wat 'n verrassing toe daar "laid lines" is en nog groter die verrassing toe 'n Suid-Afrikaner op die kaai vir ons die tou aangee. En nog groter verrassing toe dit Henry en Sally, wat ons drie jaar gelede was in Symi ontmoet het, se familie is! Sy naam is Chris en Archie nooi hom vir 'n bier.
Ek neem 'n foto van die twee musketiers op Maja se pikante stertjie en die son kleur hul gesigte in. 
Pithagorion
Archie en Chris
Dorpskaai
Vissersboot
Ons meisies gaan doen inkopies en drentel in die strate rond, so stadig dat dit voel of ons staan. En staan maak my knieë seer. Dan drentel ons verder en kom op die oulikste goed af wat ons wil koop. Dan koop ons maar. En Elize hou nie terug nie. Sy koop groot. Haar leuse is: "Go big or go home." En Martie is net 'n kortkop agter haar.

Klaar inkopies gedoen, toe is dit tyd vir besienswaardighede. Ons stap na die kerk en die kasteel toe. Die hele dorp van Pithagorion is eintlik gebou op die ruïnes van antieke Samos. Hiervan is die kerk en kasteel bewys. Die mure van vergange se dae is nog te sien.
Kasteelingang
Kasteel en Basilika
Preekstoel in Basilika
Uitsig van Kasteel
By die argeologiese terrein is ook nog ruïnes van die verre verlede. Die enigste wat ons terugbring na die hier en nou is ons self wat dit bewonder. Toe stap ons deur die straatjies terug na Maja.
Straatjie
Archie stap saam met ons na die monument van Pithagoras. Hulle albei is mos Wiskundige reuse. Ek, as dom blond, poseer saam met die slimmes. 
Pithagoras se tetraktys
Pithagoras standbeeld
Twee slimkoppe
Ons geniet die ryk aanlug en maak klaar om 'n gyro te gaan eet. Heerlik. En daarna bederf ons onsself met "frozen yogurt". Heerlik. Elize en Martie loop nog rond of iets en ek en my kaptein sit landbeen op Maja en geniet die absolute heerlike atmosfeer op Pithagorion se dorpskaai. Prysloos.
Ek en Archie
Aandstond
Archie besluit om te stort. Reg voor Maja is dit net restaurante. Die skare hou hom onbeskaamd dop. En ou Archie was oral. Hy het darem sy swembroek aan. Maar hy skrop nou behoorlik óral. 

Wel, ek moet sê, ons het ons verblyf op Samos terdeë geniet.

No comments:

Post a Comment