![]() |
Roete tot op datum |
![]() |
Kalotaritissa Baai tot Katapola |
Vandag is dit gelukkig nie vêr na Katapola, 6.7 myl, nie. Gerrie en Ansu was in 2014 saam met ons hier. Dit is 'n oulike ou dorpie. Anker op en weg is ons.
Die see is nog groot van die sterk winde en ons rol die kant toe en daai kant toe. Die 6.7 myl voel baie langer as wat dit is. En ons het die vooruitsig om Martin en Shiree van Gumnuts hier te sien. Ons vaar die baai in en ek rek behoorlik my öe om vir Gumnuts te sien. En jou wrintie, daar is hulle! Op anker.
Ons wuif soos windmeulens. Dis heerlik om hulle weer te sien! Shiree se wasgoed wapper in die wind. Ons groet en maak afspraak vir 'n vinnige middagkuier voor ons die aand gaan uiteet. Martin klim in sy dinghie en jaag kaai toe om ons toue te vang. Vreeslik gaaf. En vas is ons. Toe groet ek vir Martin behoorlik! Hy kom aan boord en kuier so bietjie en sê Shriree moet port polisie toe gaan dan sal sy ons sommer oplaai vir 'n vinnige kuier op Gumnuts.
Martin en Archie |
Ek en Shiree |
Ons is net so bly om vir Shiree ook te sien. Ons vaar saam met haar na Gumnuts. Toe gesels ons behoorlik. Ons sien hulle een keer per jaar. Hulle het Shiree se susterkind en haar kêrel aan boord, maar hulle is uit vir die dag.
Ons het vir 'n ruk nie internet gehad nie, so ons weet nie wat Gus se planne is nie. Wel, ons hoor toe die swerkater is op pad. Ons wou twee dae by Katapola bly en weer na die klooster gaan, maar ons sal die planne moet verander en môre weer in die pad moet val. Anders gaan ons weer op so groot see moet vaar en daarvoor sien ek nie kans nie.
Die enigste ligpunt is dat ons die dag saam met Martin en Shiree kan deurbring. Ons het 'n ete-afspraak vir 19:30. Hulle vier kom in die dinghie aangery en ons ontmoet vir Matt en Amber. Twee oulike jong mense.
Daar kom hulle |
Archie, Matt, Amber, Shiree, ek en Martin |
Ons vier oues van dae eet geroosterde lam met suurlemoen deurdrenkte aartappels. Heerlik! Matt is 'n vegan en hy eet pepers wat met rys gevul is en Amber kies spagetti en garnale. Dit was 'n heerlike ete met goeie geselskap, geurige kos en yskoue wyn. 'n Aand om te onthou.
Môre wil ons 5:30 vertrek vir ons 37 myl dag.
No comments:
Post a Comment