Sunday, August 13, 2017

Monemvasia.



11 Augustus 2017. Vrydag.

Metokhi Baai tot Monemvisia

Die kaptein is vroeg met sy koffie en ons vertrek na Monemvasia, 39.5 myl. Dis aan die suidepunt van die Peloponossis. Ons motorseil die hele pad. Ek sien ook vir die eerste keer hierdie jaar vliegvissies.

Na ’n lang pad, is ons daar. Ons probeer eers op die snaakse rotsbodem anker, maar byt is verniet en toe gaan ons hawe toe. ’n Waterskilpad kontroleer die hawe en ’n vreemde vrou snorkel daar rond om te sien wie se ankers byt. Archie tru, ek gooi anker en na ’n mis vang van die tou en ’n weer gooi, is ons vas en die vreemde vrou bevestig dat ons anker wel gebyt het.

Mooi baai
Monemvasia se onderdorp van die see gesien
Hawe met Monemvasia in agtergrond
Vissersbootjie
Op pad na Monemvasia. Yefira (nuwe dorp) in agtergrond

Monemvasia beteken "enkel ingang". Die rots, waarop Monemvasis gebou is, was oorspronklik aan die land met 'n nou strook verbind. In 375 n.C. het ’n aardbewing die meeste van die kusdorpe in die omgewing onder die see laat sink en  Monemvasia word toe 'n eiland. 

In die 6de eeu is hier ’n Bizantynse dorp bo-op die klein eiland gebou met mure rondom.  400 jaar later is die onderdorp gebou. Die stad was baie belangrik vir die handel wat hier gedryf is. Toe begin die sports. Die arme plek word verower deur die Franke, Turke, Venesiërs en die Grieke. Mans moet mos altyd goed en plekke verower.

Bo-op die rots, is daar min oor van die ou stad. Daar is nog mure te sien en Aghia Sofia, die Bizantynse kerk.

Ou stadsmuur

Aghia Sofia en bo-dorp se mure
Op pad na bo-dorp
Steil kronkelpaadjie


Die onderste dorp is nog pragtig. Hulle bewaar en herstel dit. Baie van die huise kom uit die Bizantynse tydperk, met aanbouings uit die 16- en 17 de eeu. Wel, maak nie saak wat alles in die verre verlede hier gebeur het nie, die plek steel my hart. My suster, Elize, sou in die sewende hemel gewees het as sy hier was.

Onder-dorp
Onderdorp

Die onderdorp het nou ’n klomp eetplekke en snuffelwinkels. (Ek snuffel gou weer geskenkies vir my drie seuns uit). Hier is ook hotelle en gastehuise vir diegene wat die ouwêreldse atmosfeer  wil geniet.

Monemvisia is gewis en seker ’n besoek werd.

No comments:

Post a Comment