28 Junie 2017. Woensdag.
![]() |
Kyra Panagia tot Rousoumi Baai |
Ek kan nie glo dat die lang dae so vêr agter ons lê nie.
Dis nie 58 myl of 45 myl nie. Nee, dis nou net 14 myl. Dis eintlik net ’n hanetree
vêrder na Rousoumi Baai. ’n Ormos is mos die Griekse woord vir baai. So O.
Rousoumi is eintlik is Afrikaans Rousoumi Baai.
Ons is op pad na Alonissos Eiland. Die hoofdorp is
Patitiri, maar ons bestemming is net langs die hawe. Ons het verlede jaar vreeslik
geskud en gehop op daai kaai van Patitiri. Ek onthou nog dat Archie en Yvon in
die nag opgestaan het om die vasmeertoue te verstel dat Maja nie moet seerkry
nie. So vandag gaan ons anker gooi in die buurbaai, Rousoumi. Ons is eerste
daar en kry weer die beste plek en gooi tussen die seegras, op ’n groot sandkol
ons anker.
Patitiri |
Die baai is eintlik ’n gelukkige vakansie strand.
Mense, groot en klein, oud en jonk, vet en maer, mooi en lelik (nee, almal is
mooi, want hulle klink so gelukkig) geniet die warm Griekse dag op die strand.
En dis nogal ’n sandstrand, nie klippies nie.
En as jy nou wil sien hoe geniet die kinders die
branders, dan moet jy sien as die groot veerbote na Patitiri se hawe gaan. Dan
maak die ou reuse mos golwe wat op Rousoumi se strand uitspoel. Dan speel
almal in die luuksheid van branders, totdat die see weer gaan lê. Een seuntjie
het skoon weggehardloop oor die branders so “groot” was. Ek sal graag wil sien
wat maak die kinders met Suid-Afrika se branders.
Ander tieners spring by die kranse af in die see.
Ai, maar dis lekker om alles om my gade te slaan. Ons kyk ook hou sukkel die
ander mense om hul ankers te laat byt. Seegras is maar ’n bogger om ’n anker in
te laat byt.
Ons vat vir Dinkie en gaan land toe. Ek laat
eintlik my knieë rus, so ek loop net die trappe op en kyk oor die baai uit.
Archie loop verder. Die strand is vol mense en ek kyk na stralende gelukkige
gesigte en hoor laggende kinders.
Strand |
Onder in die baai lê Maja, saam met al haar
vriendinne. Terug by die boot, gaan kyk Archie met die snorkel in die helder
water of die anker nog reg is en sommer ook na die anker van ’n Franse omie wat
alleen sy anker gegooi het en dit nie eers getoets of dit gebyt het nie. Archie
kom terug en doen verslag – ons anker lyk pragtig, maar die omie se anker lê sommerso
bo-op die sand, glad nie gebyt nie. Ek hoop vir sy part dat die wind nie vannag
gaan waai nie.
Rousoumi Baai |
Dit is ’n windstil aand, maar die see rol van vêr af
in en ons wieg saam. Die omie se anker hou…