Sunday, July 31, 2016

Tilos. Mikro Chora.



30 Julie 2016. Saterdag.

Vandag is dit die Mikro Chora. Gedurende die15de eeu, was dit die middelpunt van die eiland, maar na die Tweede Wêreldoorlog is dit ontruim. Dis nou nog net die kroeg wat vol atmosfeer in die somersmaande saans oopmaak en tot laatnag besoekers lok.

Ons is toe maar 8:30 met dapper en stapper boontoe. Elize kom rooigesig bo uit en vir die fikse Fanie is die ou op stappie niks. En ek en my ou Archie? Ons is maar net die seilende sigeuners. Ons seil en stap en vaar en leef. 

Bergpaadjie

Die Middeleeuse dorpie is iets besonders. Dit betower vir my en Elize. Reste van mure en deure en vensters staan in verlatenheid as bewys van die welvaart van vergange se dae. Nou is dit ’n woonplek van bokke en baba bokkies wat op oormôre se spyskaart is.

Baba bok
Fanie-bok, Bella-bok en Arch-bok

Die kerk troon rein en wit en heel bo die ander bouvalle uit. Ons stap nog boontoe en die bouvalle is eindeloos baie. Daar is net nog en nog ruïnes en mure en straatjies. Sowat van kykgenot het ons lanklaas beleef.

Mikro Chora
Bouvalle
Nog bouvalle
In die deur
Elize


Bo staan Archie soos ’n brandwag wat oor sy gebied wag hou. Bespied die terrein en kyk wanneer die vyand kom. Ek wonder waar is Fanie. 

Brandwag

Ons kom op ’n klein kerkie en begraafplaas af. Die oorledenes lê vreedsaam in hulle grafte met ’n kruisie as herinnering van hulle bestaan. "Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer."

Kerkie
Begrafplaas
Muurskildery in 1430 "Sotera" kerkie

Archie en Fanie wag vir ons en hulle lyk vreeslik verveeld. Miskien is Archie eerder lus vir ’n bietjie seil en Fanie vir ’n bietjie draf.

Moeg gewag

Nou is die terugtog. Elize het ’n wilde kyk in die oog. Sy is nie vreeslik lus vir die warm af pad oor die klippe nie. “Stadig, stadig oor die klippertjies, die sweet val sulke wonderlike druppeltjies. Bokkie jy moet huis toe gaan.” Ons stap en stap en stap. Dis warm. Dis baie warm.

Ek en Archie stap oor die pad en Elize en Fanie kom nog in die stap paadjie af. ’n Griek ry verby en ons familie is mos waaiers. Ek waai vir die man. Hy dink ek stop hom en hy stop. Daar kry Elize ’n geleentheid terug. Fanie klim ook. Hy laat nie sy vrou alleen saam met wildvreemde Grieke ry nie. Ek wil nie klim nie en ek en my ou Ark loop rustig terug huis toe.

Die Mikro Chora is inderdaad ’n baie besonderse plek om te besoek. Die stap tot daar en die rondsnuffel in die chora was vir die susters baie besonders.

No comments:

Post a Comment