29 Julie 2016. Vrydag.
 |
Nisyros tot Livadia |
Ons gaan vandag na Tilos, nog een
van my gunsteling eilande. Die hawe, Livadhia, 36°25.026 N, 27°23.169 O, 18.3
myl, het maar min plek, so ons vaar nie te laat nie. Ons trek ons anker op sonder
probleme en weg is ons.
 |
Weg is ons |
 |
Amper daar |
Gus waai van agter en ons seil vir
twee ure, waaroor die kaptein en Fanie baie bly is. Die see is pragtig blou en
Elize en Fanie geniet dit vreeslik. Livadhia lê voor ons en nou vir die vraag –
is daar plek vir ons?
Iemand blaas ’n fluitjie en wink vir
ons. Ons het ’n plek, waarvoor ons baie dankbaar is. Ek gryp die snoettou,
Archie tru in die spasie en gooi die toue vir die vasmeerman. Fanie kom help om
die snoettou te trek, want dit kos ’n man op ’n perd en Tarzan se spiere om
daai tou styf te trek.
Welkom in Tilos. En ons voel sommer
baie welkom. Ons klim die 16:30 bus na die Megalo chora met die doel om baba
bok daar te eet vir Elize se verjaarsdag wat eers die 31ste Julie is. Archie
gaan na die taverna waar ons verlede jaar so lekker geëet het om plek te
bepreek. Maar wil jy nou meer. Die vrou sit met haar voete lekker op ’n stoel
en stel glad nie belang om vir ons te kook nie. Sy moet maar die hele bok in haar alie druk.
Sy sien ons nooit weer nie.
Ons stap na die kerk bo in die
chora. Oral is pragtige deure met die mooiste kleure wat helder teen die
spierwit mure afsteek. Elize wil net in al die stegies loop en Fanie? Ek weet
nie so mooi nie. Ek dink maar weer hy moet ’n ent gaan hardloop.
 |
Megalo chora |
 |
Kerktoring |
 |
Kerkklok |
 |
Ek en Elize |
 |
Blou deur |
 |
Ou Kerkie |
Ons koop raki van Tilos by ’n supermark
en klim die 18:45 bus terug na Livadhia. Ons gaan sommer Elize se verjaarsdag by
ons eie hawedorpie vier. Ons kry ’n plek vol atmosfeer onder sulke groot bome en
ons is in ons noppies.
Vier borde vol baba bok word na ons
tafel toe aangedra en ons smul te heerlik aan die te groot porsies kos. Fanie
is in sy element met die baie vleis wat hy te eet kry.
 |
Verjaarsdagete |
 |
Verjaarsdagmeisie |
 |
Smaaklike ete |
Knuppeldik en tevrede stap ons terug
na Maja. Vanaand gaan ek my bed seermaak.
Dis ondraaglik warm.
No comments:
Post a Comment