Thursday, July 7, 2016

Kusadası.


6 Julie 2016. Woensdag. 

Roete tot op datum
Körmen Adası to Kusadası

Wat ’n heerlike nagrus. So anders as die vorige nag. Die verskil tussen sommer net ’n baai en ’n idilliese baai, is Gus.

Deon roei vroeg land toe met Dinkie en loop die wêreld plat. Hy het vreeslike lang bene en groot voete. Hy loop baie vinnig. En baie vêr.

Die oggend is pragtig en die modelle pragtiger. Die son skyn met strale van genot en verf geluk op die gelaatstrekke van die mens. Laat ons lewe, liefhê.

Ek en Archie
Rooikappie en Rooies
 
Een na die ander begin die seiljagte die baai verlaat. Elkeen in sy eie rigting. Na wie weet waar. Êrens heen, op pad na nog avonture en ervarings. Ons is op pad na die einde. Die die laaste vaart voordat Deon en Ryna ons en Maja verlaat. 

Tot siens, Körmen Adası

Landbeen sit

Gus waai nie en ons vaar na ons bestemming, Kusadası, 37°52.263 N, 27°15.767 O, 21.8 myl. Dis ’n rustige vaart, mens kan amper nie dink dat net aan die ander kant daar stormsterkte winde waai nie. Die vergeet kom gou en die onthou raak vaag. Tot ’n volgende keer.  Dan laat Gus my weer onthou.

Kusadası met sy kasteel kom nader en voor ons weet, is ons daar. Ek roep op kanaal 73 en ons wag vir die manne. Hulle wys ons die plek, elkeen doen sy ding en ons is vas. Nou is dit klaar, die gevaardery. Deon en Ryna is nou as’t ware by die huis. Van hier gaan hulle die res van Turkye ontdek. 

Kusadası se kasteel
 
Ons klink ’n glasie op die genotvolle en suksesvolle paar dae wat hulle ons dae vervrolik het met hulle sprankelende teenwoordigheid.

Klink 'n glasie

No comments:

Post a Comment