30 Julie 2016. Saterdag.
Vandag is dit die Mikro Chora. Gedurende die15de eeu, was
dit die middelpunt van die eiland, maar na die Tweede Wêreldoorlog is dit
ontruim. Dis nou nog net die kroeg wat vol atmosfeer in die somersmaande saans oopmaak
en tot laatnag besoekers lok.
Ons is toe maar 8:30 met dapper en
stapper boontoe. Elize kom rooigesig bo uit en vir die fikse Fanie is die ou op
stappie niks. En ek en my ou Archie? Ons is maar net die seilende sigeuners.
Ons seil en stap en vaar en leef.
 |
Bergpaadjie |
Die Middeleeuse dorpie is iets
besonders. Dit betower vir my en Elize. Reste van mure en deure en vensters
staan in verlatenheid as bewys van die welvaart van vergange se dae. Nou is dit
’n woonplek van bokke en baba bokkies wat op oormôre se spyskaart is.
 |
Baba bok |
 |
Fanie-bok, Bella-bok en Arch-bok |
Die kerk troon rein en wit en heel bo
die ander bouvalle uit. Ons stap nog boontoe en die bouvalle is eindeloos baie.
Daar is net nog en nog ruïnes en mure en straatjies. Sowat van kykgenot het ons
lanklaas beleef.
 |
Mikro Chora |
 |
Bouvalle |
 |
Nog bouvalle |
 |
In die deur |
 |
Elize |
Bo staan Archie soos ’n brandwag wat
oor sy gebied wag hou. Bespied die terrein en kyk wanneer die vyand kom. Ek
wonder waar is Fanie.
 |
Brandwag |
Ons kom op ’n klein kerkie en begraafplaas
af. Die oorledenes lê vreedsaam in hulle grafte met ’n kruisie as herinnering van
hulle bestaan. "Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer."
 |
Kerkie |
 |
Begrafplaas |
 |
Muurskildery in 1430 "Sotera" kerkie |
Archie en Fanie wag vir ons en hulle
lyk vreeslik verveeld. Miskien is Archie eerder lus vir ’n bietjie seil en
Fanie vir ’n bietjie draf.
 |
Moeg gewag |
Nou is die terugtog. Elize het ’n wilde
kyk in die oog. Sy is nie vreeslik lus vir die warm af pad oor die klippe nie. “Stadig,
stadig oor die klippertjies, die sweet val sulke wonderlike druppeltjies.
Bokkie jy moet huis toe gaan.” Ons stap en stap en stap. Dis warm. Dis baie
warm.
Ek en Archie stap oor die pad en
Elize en Fanie kom nog in die stap paadjie af. ’n Griek ry verby en ons familie
is mos waaiers. Ek waai vir die man. Hy dink ek stop hom en hy stop. Daar kry
Elize ’n geleentheid terug. Fanie klim ook. Hy laat nie sy vrou alleen saam met
wildvreemde Grieke ry nie. Ek wil nie klim nie en ek en my ou Ark loop rustig
terug huis toe.
Die Mikro Chora is inderdaad ’n baie besonderse plek om te besoek. Die
stap tot daar en die rondsnuffel in die chora
was vir die susters baie besonders.