Wednesday, September 2, 2015

Zoodhochos. Ooo Ryperd ...



31 Augustus 2015. Maandag.

Korinte tot Zoodhochos

Ons is glad nie spyt dat ons Korinte moet verlaat nie. Ons gaan vandag na ’n klein eiland, Zoodhochos, 38°06.705 N, 22°59.503 O, 16.8 myl. Gus waai en ons waai ook. Die vraag is net, hoe kom hier uit? Die spasie is klein en Gus waai ons al weer teen die kaai vas. Benoude boude!

Archie bedink die saak die kant toe uit en dan daai kant toe. As hy die tou losmaak, gaan ons die kant toe en as hy daai tou losmaak, gaan ons daai kant toe. Maak nie saak hoe hy uitwerk nie, die feit is Gus waai ons teen die kaai vas. Ek weier om agter die helm te wees, so ek moet toue losmaak en afstoot. Die buurman kom gelukkig help. Ons eerste probeerslag werk nie en ek maak gou weer die middelste tou vas.

Ons probeer weer. Tou los, buurman en ek stoot, Archie gee woema en die buurman sê: “It is turning!” Maja draai haar snoet weg van die kaai, ons keer vir haar stêre dat sy nie stamp nie en weg is ons. Ons en die buurman is ewe bly.

Hemel, maar Gus gooi ons met sy windvlae en rukwinde. Hy ruk en pluk. Dis die ergste wind wat ons nog die jaar op see gehad het. Maja tril skoon!

Ons gaan om die draai en dis nie veel beter nie die deinings kom aangerol en die winde ruk, natuurlik van vooraf. Dis net seeperdjies. Dis toe dat die liedjie in my kop kom. “O Ryperd, ons vaar die pad tesame ...” Daai Ryperd ry en ons ry saam. 

Om die draai


Ons sien ons ankerplek en dit lyk nie so goed nie. Gus stuur nog steeds sy rukwinde om aan ons te pluk. Ons vaar die baai binne en gooi anker. Die wind waai, maar die see is kalm en plat. En ons is tevrede en voel selfs veilig. Dis baie beter as wat dit gelyk het. Ons gaan nie eers land toe nie, want Gus is te lastig.

Daskalio Eiland en Zoodhochos Eiland met sy klooster
Zoodhochos Baai


Later die aand bedaar Gus ’n bietjie, maar gaan lê nooit nie. Ons anker hou pragtig (ons het mos die anker alarm op die selfoon) en ons slaap rustig.

Nog 'n dag is verby

No comments:

Post a Comment