Friday, May 15, 2015

Şehir Adalari

13 Mei 2015

Van Çokertme tot Şehir Adalari
 

Vandag was deur en deur ’n vısuele dag. ’n Dag van siengenot, van oogplesier.

’n Nuwe dag begin en ons is op en wakker om te vertrek. Ons is voor die son op, toue word losgemaak, anker opgetrek en weg is ons na Şehir Adalari, 36°59.647 N, 28°12.460 O, 24 myl. Die son kom oranje-warm oor die berg op en werp sy skel strale op die see, wat dit versag tot roosgoud rimpels wat rol.

Oranje-warm ...
... met roosgoud rimpels


Die berge staan met hulle voete in die see terwyl hulle hoog oor die see uitkyk na daar ver. Maja prrr lustig en vrolik voort. 

Voete in die see


Na 20 myl kom ons by Akbük Limani. Ons wil die plek net van nader bekyk. Die Aegan Clipper staan in die baai op anker. Ons maak 'n draai in die baai en vat die pad verder na Sehir Adalari.


Akbük Limani


Ons vaar die baai in en die toerbote staan die kaai vol. Ons anker toe maar ’n redelike ent van hulle af, want on weet nie waar hulle ankers is nie. Voor die reën wat hulle voorspel het, sit Archie Dinkie se motor versigtig op (hy is bang hy laat dit in die see val) en ons gaan land toe.

Ons besoek die baie geskiedkundige eiland met vollop ruïnes van die antieke tyd. Ons loop die pad na die verlede en sien die kerk van ouds, die basilica, die agora. Die mooiste vir ons is die teater. Dit kon 2 500 toeskouers huisves. Ek neem my sitplek in en wag vir die skouspel om te begin. Maar al wat ek sien, is ou Archie. Oral staan ou-ou olyfbome. Maggies, maar dis mooi!

Kerk
Teater
"Let the show begin"
Marieks op die muur


Die groot trekpleister is Cleopatra se strand. Daar word oorvertel dat Cleopatra en haar Antony baie tyd hier op die strand deurgebring het. So groot was haar liefde vir hom, dat sy ’n skeepsvrag vol sand van die Sahara woestyn laat kom het om op die strand te gooi. Deskundiges het die sand blykbaar ontleed en bevind dat dit inderdaad sand van die Sahara is en dat die tipe sand nie in die omgewing voorkom nie.
 
Cleopatra se strand


Daar word baie gedoen om die strand te bewaar. Daar is ’n bewaarder wat die sand bewaar. Hy kyk dat besoekers nie sand steel nie, wat in die verlede dikwels gebeur het. Jy mag glad nie op die sand loop nie, dis is toegespan. Hulle het trappe gemaak waarop jy loop as jy wil gaan swem. Baie voornemende Cleopatras swem hier en word dan uit allerande hoeke deur hulle Antonies afgeneem. O, die ydelheid.

Moderne Cleopatra


Ek en Archie sit heerlik vir die baaiers en kyk. Ons het nie geweet ons mag swem nie en het nie ons swembroeke saamgebring nie. Archie het voorgestel dat ek in my onderklere moet swem, maar ek het hom net ’n vuil kyk gegee. Ons verkyk ons aan ’n man met ’n “hemp tan”. Almal swem, jonk en oud, mooi en lelik, vet en maer.
 
"Raai van watter land kom hy vandaan?"


Na ’n genotvolle uitstappie gaan ons terug na Maja, wat soos gewoonlik rustig op haar pos effe ronddraai. Die toerbote verlaat die baai en dit word ons eie. 

Die dag is verby. Die son is ’n vlammende geel-oranje bal wat groet en stadig agter die berg wegsak, met net soveel grasie soos wat hy vanoggend sy veskyning gemaak het.

Dis dag ...
... en die vlammende geel-oranje aand

No comments:

Post a Comment