Wednesday, October 2, 2013

Beeldskone Bled. Dag 156, 157

30 September 2013. Maandag.



Dit reën nog steeds. Dit is koud. Bled word weggesteek deur die wolke, die mis, die reën. Dis 'n sameswering deur al die jaloerse natuurelemente om die toeriste te verhoed om in die skoonheid van Bled te baai.

Vila Gorenka

Bled word 'n spookdorp. Geen sterfling is op straat nie. Dis net so nou en dan dat iemand dapper uitglip na die supermark om 'n noodsaaklikheid te koop. En dan maak jy seker jy is gepanser teen die kou. Archie lê rooi-neus in die bed. Die weer dwing hom om in die bed te bly en dis in elk geval die lekkerste plek om te wees. Ons lees boek en ek kyk na my kasteel. Dit lyk na 'n storieboektoneel. Die kasteel, hoog op teen die krans, met die misvingers wat wil gryp en die wolke wat inrol.

Dit reën die hele dag.




1 Oktober 2013. Dinsdag.

Wil jy nou meer! 'n Stukkie sonskyn!

Almal kruip uit hul gate uit en die dorp wemel van mense. Daar is roeibote op die meer oppad na die eilandjie. Die stappers stap, die drawwers draf en die ander sit suip en eet in gesellige restaurante.

Kerk van St Martin



Ons stap op na die kasteel. Die uitsig is mooi. Die son kruip soms agter die wolke uit en gooi sy strale met 'n warm gloed op die landskap. 

Eiland vanaf Kasteel



Ons stap in die woud en ek beleef die geur van blare, van nat en mos. Ons draai terug en stap langs die meer na die Park Hotel, waar ons tradisionele kremna rezina eet, 'n soort vlaskyf-roomkoek ding. Ryk en lekker.

In die woud
"Swan Lake"
Vroegherfs



Die middag stap ons in 'n ander rigting heuwel op, deur natuurlike woude. Stap bly my eerste liefde. Die paddastoele (sampioene) het oral opgeskiet na die reën. Toe ek 'n kind was, het ek vas geglo dat kabouters onder paddastoele bly. Ek dink ek was reg!

Kabouterhuis
Nog 'n kabouterhuis
Kasteel gesien van woud




Ons is net voor donker weer terug in die dorp en soek dadelik 'n knus en warm plek om iets te eet. Dit begin weer liggies te reën.

Stap terug

Wat 'n lekker dag.


Published with Blogger-droid v2.0.10

2 comments:

  1. Halo Julle!

    Eks so bly die son het deurgekom sodat julle die dorp kon geniet: die stap deur die pragtige woud, die mooi uitsigte. Die kasteel is regtig imposant. Dit lyk of Arch se verkoue darem beter is.

    Eks bly julle het die dag so geniet! n Hoogtepunt hier op die einde van julle reis. More is seker julle laaste dag? Geniet dit!

    Liefde
    Elizexx

    ReplyDelete
  2. Halo Julle !

    Ek kyk nou weer na al die fotos van Bled. Dit is darem maar n pragtige plek, n Pragtige dorpie, plus al die pragtige natuurskoon - die uitsigte, lanings en natuurlilke woude. Ek kan verstaan dat julle so gaande was oor Bled, dit is n besonderse plek, die beste van 2 werelde. Aan die een kant die mooi dorp en aan die ander kant die wandelpaaie tussen die pragtige natuurskoon.

    Eks so bly die weer het julle kans gegee om dit te verken, anders sou julle baie gemis het.

    Lielfde
    Elizexx

    ReplyDelete