Thursday, October 3, 2013

Totsiens. Laaste dag.

3 Oktober 2013. Donderdag.

Ses maande, drie seisoene.

Sewe lande - Frankryk, Kroasië, Montenegro, Albanië, Griekeland, Italië en Slovenië.

Vliegtuig, trein, bus, motor, veerboot, voete en natuurlik 1758 seemyl met Maja.

Die koue weer is besig om ons in te haal en ons moet vlug voordat die Europese herfs ons warm seilersharte verkil. Dis tyd om huis toe te gaan.

Die tyd het letterlik gevlieg. Eers Frankryk. En toe die seil. Van daardie eerste nag op Pivorac, waar ek nie gedink het ek oorleef die nag nie, wat nog te sê vyf maande van seil, tot nou.

Daar het baie water in die see geloop. My woorde is op, my gemoed is vol. Wat 'n wavrag vol ondervindings, ervarings en herinneringe.

Ek, die Seilende Sigeuner en my kaptein, Archie, groet tot 1 Mei 2014, wanneer ons die tweede seisoen van seil gaan aandurf.

Totsiens



Wie weet wat alles voorlê ...


Published with Blogger-droid v2.0.10

Dag 158, 159. Ljubljana

2 Oktober 2013. Woensdag.


Ek sit vir oulaas op die balkon en hoop die wolke lig, sodat ek die hoë berge van Slovenië, rondom Bled kan sien. Maar tevergeefs, die wolkkombers is te dik. Ek sal eendag hierheen moet terugkom as die weer beter is. Hier is nog so baie om te sien en doen.

Ons klim die bus en daar trek ons na Ljubljana. Ons gaan tuis in Hostel Tresor, 'n jeughostel, wat eers 'n bank was. Ons pak ons goed in die kamer en gaan dadelik strate toe, terwyl die weer dit toelaat. 

Strate toe!



Ons loop heuwel-op kasteel toe. Dié kasteel is 'n argitektoniese mengelmoes. Die mure kom uit die 16de eeu. Die kapel dateer uit die laat 15de eeu. Dan is daar nog 'n 1970 konkreet-kafee en 'n 19de eeuse wagtoring. Iets uit elke eeu!

Ljubljana Kasteel bo-op die heuwel
Ljubljana Kasteel
Oudorp vanaf kasteel




3 Oktober 2013. Donderdag.


My pa verjaar vandag, 84 jaar oud! Baie geluk Pa.

Dis 'n mooi dorp hierdie, 'n soort van klein Parys. Dis net die weer wat winter word. Net na ontbyt is ons uit om die res van die oudorp te verken. Ons kyk na al die mooi, ou geboue. Die salmpienk kerk van St Francis domineer die hoofplein van die dorp.

Hoofplein met Trippel Brug en Kerk van St Francis
Union Hotel
 Bewaker van die Draakbrug
Universiteit van Ljubljana
Geboue langs die Ljubljanarivier
Kongresni Plein met Kerk van die Heilige Drie-eenheid
Trippelbrug
Studie van hoeke



Die koue klou aan ons wange, maar ons kyk ons kyk vir oulaas, want môre gaan ons huis toe.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, October 2, 2013

Beeldskone Bled. Dag 156, 157

30 September 2013. Maandag.



Dit reën nog steeds. Dit is koud. Bled word weggesteek deur die wolke, die mis, die reën. Dis 'n sameswering deur al die jaloerse natuurelemente om die toeriste te verhoed om in die skoonheid van Bled te baai.

Vila Gorenka

Bled word 'n spookdorp. Geen sterfling is op straat nie. Dis net so nou en dan dat iemand dapper uitglip na die supermark om 'n noodsaaklikheid te koop. En dan maak jy seker jy is gepanser teen die kou. Archie lê rooi-neus in die bed. Die weer dwing hom om in die bed te bly en dis in elk geval die lekkerste plek om te wees. Ons lees boek en ek kyk na my kasteel. Dit lyk na 'n storieboektoneel. Die kasteel, hoog op teen die krans, met die misvingers wat wil gryp en die wolke wat inrol.

Dit reën die hele dag.




1 Oktober 2013. Dinsdag.

Wil jy nou meer! 'n Stukkie sonskyn!

Almal kruip uit hul gate uit en die dorp wemel van mense. Daar is roeibote op die meer oppad na die eilandjie. Die stappers stap, die drawwers draf en die ander sit suip en eet in gesellige restaurante.

Kerk van St Martin



Ons stap op na die kasteel. Die uitsig is mooi. Die son kruip soms agter die wolke uit en gooi sy strale met 'n warm gloed op die landskap. 

Eiland vanaf Kasteel



Ons stap in die woud en ek beleef die geur van blare, van nat en mos. Ons draai terug en stap langs die meer na die Park Hotel, waar ons tradisionele kremna rezina eet, 'n soort vlaskyf-roomkoek ding. Ryk en lekker.

In die woud
"Swan Lake"
Vroegherfs



Die middag stap ons in 'n ander rigting heuwel op, deur natuurlike woude. Stap bly my eerste liefde. Die paddastoele (sampioene) het oral opgeskiet na die reën. Toe ek 'n kind was, het ek vas geglo dat kabouters onder paddastoele bly. Ek dink ek was reg!

Kabouterhuis
Nog 'n kabouterhuis
Kasteel gesien van woud




Ons is net voor donker weer terug in die dorp en soek dadelik 'n knus en warm plek om iets te eet. Dit begin weer liggies te reën.

Stap terug

Wat 'n lekker dag.


Published with Blogger-droid v2.0.10