Tuesday, August 13, 2013

Budva. Dag 106, 107.

11 Augustus 2013. Sondag.


Bigova tot Budva


Dit reën nie meer nie. Die wind waai nie meer nie. Ek loer by die deur uit. Hoe lyk die see? Die golwe breek nie meer met geweld teen die rotse nie. Ons kan nie na die weervoorspelling kyk nie, want ons het nie meer internet nie.

Ons gaan vandag na Budva (42º 16.864 N, 18º50.400 O), 12 myl. Ons laat die boei vry en vat die water na die oop see. Ek kan sien dis nie meer rof nie, maar is tog nog bietjie benoud. Dit lyk soms of dit plat is, dan is die deinings groot genoeg vir 'n wiegelied vir Maja.

Dinge lyk goed en ek voel gerus. Daar is net 'n ligte wiegelied op die see. Die wind is van agter en ons span die hoofseil. Ons seil vir 'n ruk, maar Gus draai en kom nou van voor. Ons motor verder.

Montenegro se kuslyn bestaan uit rotse en kranse wat met hulle voete in die see staan. Die see is diep tot by die land. Geen skuilplek hier vir 'n seiljag nie!

Kuslyn (Let op na wit spikkel in middel van foto)
Spikkel (Kerkie op onmoontlike plek!)


Budva kom nader. Ons sien net strandsambrele. Vakansie-hou is die inding hier by Budva.

Sambreelstrand
Budva strand


Ons vaar versigtig nader na die Marina, want hier is dit vlak water met rotse.  Ons bly netjies tussen die bakens en 'n vasmeerman wag al vir ons. Archie tru in 'n baie, baie nou spasie tussen twee ander jagte in. Op albei die jagte staan die afstoters gereed. Archie tru meesterlik in die nou spasie. Die buurman help my om die tou deur die fenders te kry en ek maak voor vas. Maklik en vinnig.

Dis nie 'n goeie Marina nie, want al die verbygaande motorbote se golwe laat ons op en af wip. Die drywende kaai is ook altyd aan die beweeg.

Later, toe dit 'n bietjie koeler is, gaan ons dorp toe. Elize, waar is jy! Dit is 'n pragtige ou dorp, stegies, mure en dakkies. Ons verken die stari grad, loop op die muur, in die stegies. Ons gaan terug na Maja. Die aand gaan ons weer dorp toe. Budva het dieselfde "vibe" as Split, maar Archie sê: "Net beter." Oral is straatmusikante, menslike standbeelde, musiek. En jy sal dit nie glo nie, ook my Rooi Indiane! Dis heerlik in Budva.

Reuse mure
Nog reuse mure
Nie so groot soos Dubrovnik nie
Vinknessie
Mure

Môre gaan ek my hare sny.




12Augustus 2013. Maandag.

Nog 'n dag in bekoorlike Budva. My hare word gesny, maar ek sou dit graag nog korter wou hê. Ek is gewapen met vier foto's, maar hoe verduidelik jy vir iemand wat nie eintlik Engels verstaan nie, hoe jy dit wil hê.

Die res van die dag en aand bring ons in Budva deur. Sonder bekommernisse, sommer net vakansie.

Kerktoring
Sorgeloos



Ons probeer om nie aan die onbekende Albanië te dink nie.

Published with Blogger-droid v2.0.10

1 comment:

  1. Halo Julle twee seevaarders! Eks bly dat julle nou so n lekker tyd het na die ontberinge in die see. Julle fotos, soos altyd, baie mooi. Die kerkie se ligging gaan my verstand te bowe. Kerke moet baie belangrik wees, want hulle bou dit op die onmoontlikste plekke. Die strand lyk so lekker, ek wens ek kon ook daar swem. Ek verlang na al die stegies en dakkies, wat my hart so gesteel het, elkeen van hulle. En om enige muur te loop is opwindend. Die forte/mure lyk nogal baie groot. Die Rooi Indiane voel seker al soos vriende met die dat julle hulle so gereeld raakloop! Geniet julle laaste dae in Montenegro, Albanie gaan ook lekker wees, julle sal sien.
    Liefde
    Elizexx

    ReplyDelete