15 Maart 2023.
Wel, hier is ek weer. Die Seilende Sigeuner? Nee, gladnie meer seilende nie. Maja is mos verlede jaar verkoop. Ons hoor dit gaan goed met haar. Opgedollie met nuwe banke en dek en nog wat.
Nou is ons oppad na Skopelos, ons nuwe tuiste. Met 'n magdom bagasie. As ek net na die bagasie kyk, rys my hare. Die hele reis met die klomp bagasie was vir my traumaties. Ons is aangegluur en ek het baie onwelkom in Griekeland gevoel. Na busritte en taxi's en veerbootritte kom ons uiteindelik in Skopelos aan. Die veerboot kom by die hawe ingevaar en ek wonder wat gaan die nuwe hoofstuk vir ons inhou.
Archie koop 'n bromponie op Volos en die gevaarte kom twee weke later met 'n veerboot hier aan. Jim help vir Archie om die gevaarte van die veerboot af te kry. Nou het ons wiele. Net twee wiele, wat eintlik twee te min is.
Ek bring die eerste tas af. Archie stoei om die res bymekaar te maak. Ek stap af en wat 'n verrassing! Jim en Muriel wag ons in op die kaai. En nog groter verrassing! Cher en Lindsey is ook daar. Ek druk hulle styf vas en veg teen die trane wat uit my oë wil ontsnap.
Ek gaan terug veerboot toe om die krat te kry wat Archie bring. Hy gaan haal die ander goed en toe hy uiteindelik moeg op die kaai kom, kry hy 'n luide handeklap van ons nuwe vriende omdat hy in die koue sy beroemde, nee berugte kortbroek dra. Hulle is natuurlik uitgedos met hulle wintersklere.
Dit vat twee karre om ons goed by Marchie's Place te kry. En toe is ons tuis. Ons stoot die deur oop. Geen mufreuk. Geen nat. Marchie's Place verwelkom ons met haar geel mure en groen hortjies en ons is tuis.
No comments:
Post a Comment