14 Augustus 2022. Sondag.
Weereens is dit 5:00 uit die vere. Kapteinskoffie, kry vir Maja gereed en vertrek na Port St Paul, 25 myl. Altinkim is doodstil in die oggend. Almal slaap seker hulle roes af na 'n nag van goedkoop alkohol en seks.
Weer wind-op en teen die deinings in. Gelukkig waai Gus omtrent nie, maar die deinings is daar. Ons vaar verby talle visplase en stadig maar seker kom ons bestemming nader. Dit voel vreemd om te dink dat die uurglas van die lewe van seilende sigeuners besig is om leeg te loop.
 |
Visplaas |
 |
Visplaas |
Ons wil eers weer by St Nikolas gaan probeer anker. Die bodem lyk aaklig en ek gooi net een keer. Anker sleep en ons gaan toe maar net langsaan na Port St Paul. Die anker byt en ons is vas.
Ek hou eintlik glad nie van Port St Paul nie, al het Paulus ook hier geskuil. Die wind waai altyd hier en as jy nie op die regte plek gooi nie, is die houkrag nie goed nie. Ons het darem 'n sandkol gekry.
 |
Port St Paul |
 |
Port St Paul |
 |
Port St Paul |
 |
Port St Paul |
 |
Reier |
Dit word 'n idiliese anker. Gus waai nie, dis nie so warm nie en ons swem heerlik. Dis ons laaste anker saam met Maja. Ons drink ons laaste koue drankies en ek geniet my laaste ankerswem waarvoor ek so lief was. Ek spring seremonieel in die see. Ek klou vas aan die laaste ankerswem-ervaring.
One eet ons laaste eenvoudige anker-aandete op Maja. Hoender en bulgar, met slaai. So baie laastes. En hier op 'n heel ongewone, windstil en salige Port St Paul.
 |
Laaste "cold beverages" na anker |
 |
Laaste swem |
 |
Laaste skemerkelkie |
 |
Laaste avondmaal |
Dis so ongewoon hier op Port St Paul. So anders. Ek wil vashou aan die dag, maar die son gaan tog onder. Glip deur my vingers. 'n Traan glip uit my oog, rol teen my wang af en val in die see. Die dag is voorwaar 'n afdkeidsgeskenk aan ons, die seilende sigeuners.
 |
Sonsondergang
|
No comments:
Post a Comment