Thursday, September 26, 2019

Roemenië. Buşteni.

24 en 25 September 2019. Dinsdag en Woensdag.

Ons klim die 11:55 trein na Braşov en kom 15:50 daar aan . Klim 'n ander trein 16:25 en kom 17:30 in Buşteni aan. Hier is ons nou in die bewolkte berge. Dis koud. Die berg het 'n hoed op.

Ons bly in Casa David, 'n hostel. Eintlik pragtig, ons kamer is heerlik warm. Ons durf die koue aan en gaan eet 'n pizza by die Ierse restaurant en kry toe elkeen 'n gratis bier. Daai pizza is omtrent lekker. Al wat nou kort, is 'n warm bed in 'n warm kamer. En ons is sommer gou in droomland.

Ons wil met die kabelkar boberg toe gaan. Die weervoorspelling lyk maar sleg. Bewolk die hele dag. Na ontbyt, pap en eiers, stap ons na die kabelkar toe. Bewolk of te not, ons gaan boberg toe.

Die kabelkar is gelaai met mense. Ons skuur rakelings verby die bome. Die kranse is vertikaal. G'n wonder hulle sê as jy op stap, neem dit vyf ure om bo te kom. En dan vyf ure af. Gelukkig is hier 'n  kabelkar.
 
Kabelkar
 
Bo gekom, is dit nog steeds bewolk, maar geen mis of reën nie. Ons gaan kyk na die Sfinks en die Babele, die lelike vrouens. Moet sê, dit lyk vir my glad nie na lelike vrouens nie!
 
Babele
 
Toe stap ons die 3 km na die kruis. Die paaitjie hou aan en aan. Dan is dit bietjie op en dan bietjie af. Almal stap kruis toe. Op 'n stadium moet ons aan kettings vasklou om nie na benede te stort nie, toe  klou en klouter ons maar. Dis gelukkig net 'n kort entjie, toe kan ons weer normaal stap.
 
Begin stap
Boberg
Rowwe terrein
Ketting
 
Die kruis is 'n groot staalkonstruksie. Dis opgerig ter herdenking van die Roemeense helde wat tydens die Eerste Wêreldoorlog gesterf het. Dit is 36m hoog en is gebou op Caraiman Piek ( 2291m). Die hoë konstruksie toring die lug in. Die uitsigte van hier bo af is baie mooi. Die dorpies lê doer onder tussen die berge. Te pragtig. Dis maar koud hier bo. Ons eet bietjie sjokolade vir energie. 
 
Uitsig oor vallei
Ruwe riwwe
Herdenkings kruis
 
Toe begin ons om die aftog te blaas. Langs die pad sien ons die man wat so moeilik loop. Hy het saam met ons in die kabelkar op gery. Hy stap sukkel-sukkel. Ons gesels met hom. Hy sê hy het "bad blood" wat al sy gewrigte aantas. Hy kan nie eintlik so goed Engels praat nie, maar ons sê vir hom dat ons hom bewonder dat hy hier stap. Hy sê hy bewonder vir Archie wat so kaalbeen stap. (Ja, hy het sy geliefde ou blou seilbroekie aan).
 
Op pad terug
Archie
Die man en Archie
 
Ons stap die 3 km terug na die kabelkar en ry af ondertoe. Wat 'n heerlike stap, al was dit bewolk. Stap bly maar my eerste liefde.
 
Die dorp is pragtig en die Sakse invloed is duidelik sigbaar. Ons stap nog so, toe loer die son tussen die wolke uit. Te heerlik. Die blou lug tussen die wit wolke, die berge wat hoog uittroon tussen kolle mis, wat 'n mooi gesig.

Toe stap en gaan kyk vir die kasteel wat ons van ons kamervenster af kan sien. Ons gaan nie in nie, want dit is te duur en stap toe terug Casa David toe. Lekker moeg, want ons het meer as 10 km vir die dag gestap. Dit trek vroegaand heeltemal toe en begin saggies te reën.
 
Woonhuis in Buşteni
Buşteni
Wag
Buçegi Berge
Buçegi Berge
Kasteel van ons kamervenster

No comments:

Post a Comment