Sunday, June 30, 2019

Chios Eiland. Koebaai.

28 Junie tot 1 Julie 2019. Vrydag tot Maandag.

So skuil ons nog in die onklaar marina, waar dit baie veilig is. Daar is geen jagte op die water nie. Ons is omtrent twaalf jagte wat hier skuil. Die ergste wind kom eers Sondag. So ons bly maar hier, alongside langs die kaai. Ek moet sê, ek skuil eintlik te heerlik. Elize en Martie kry vannag 00:35 die veerboot na Athene. Hulle klim drie dae vroeër van Maja af en verleng die res van hul Griekse toer. Hulle moes eintlik Maandag by Mytilini, op Lesvos Eiland afgeklim het.


Skuil langs die kaai

Ek en Elize kyk na al die goedjies en geskenke wat die familie saamgestuur het. Baie dankie Laaina vir die KitKat. Sy het vir en Elize elkeen een gestuur. Van die jaar 2013, wat my KitKat so misterieus verdwyn het, stuur my oudste suster altyd een vir my. Ek en Elize gaan dit vreeslik geniet.

Dankie Brigida byvoorbaat vir die geskenk wat jy gestuur het. Ek het nie geloer nie, maar ek dink dis o.a. servette?! (Ek het gevoel!) Dankie Pa vir die sjokolade en die koevert. Ek sal die koevert op my verjaarsdag oopmaak.

Archie het ook goed gekry. Dankie Laaina, Elize en Brigida vir die geskenkies wat julle vir Archie gestuur het. Ons waardeer dit regtig baie. Hy gaan smul.

Dankie Laaina en Brigida
Dankie Pa
Dankie Laaina en Brigida

Toe begin ons optert vir die ete by die Porto Kastello restaurant. Almal lyk te fraai, veral die twee musketiers, wat nie kan ophou om mekaar te komplimenteer nie. Die kaptein sê darem sy eerste offisier lyk  pragtig. En die kaptein homself, lyk vreeslik aantreklik. Die laaste koebaai-sê ete is altyd vir ons baie spesiaal.

Opgetert
Uitgevat

Ons stap na die enigste restaurant in die omgewing. Dit het 'n pragtige uitsig oor die vissershawe en die  see. Die eetplek is net ons s'n. Elize bestel beesbredie en die res van ons varkbredie. Wel, dit was heerlik.

Baie dankie, julle. Ons waardeer die ete en het dit terdeë geniet. Geniet die res van julle toer.
 
Vissershawe
Baie dankie julle

So kom Elize en Martie se seilervaring tot 'n vroeër einde by die eiland, Chios. Hier moet ons tot Dinsdag skuil teen Gus. Hulle kry vannag die veerboot na Athene en vandaar neem hulle die trein na die Meteora se kloosters.
Koebaai koebaai
hulle altwee waai.
Gus waai en waai
Koebaai koebai
Ek waai

No comments:

Post a Comment