Friday, October 4, 2019

Seiljaar 2019.

So ja. Die seilende sigeuners het nog 'n jaar aangepak, geleef en beleef en is verby. 'n Unieke jaar. 'n Jaar van kuier en lag, kuier en huil. 'n Jaar van seil en skuil. 'n Jaar van hereniging met ou vriende. 

Ons het 1300  seemyl geseil in die seisoen, 300 in Turkye en 1000 myl in Griekeland. Ons het 20 eilande in Griekeland besoek. Nuwe en ou plekke.

Turkye.
 
Sehir Adalari
 
Mooi ou Turkye, wat ons nou al so goed ken. Stil kalm water, met salige ankers in die suide en dan die noorde, waar die wind altyd waai.  "Hy waai my hier, hy waai my daar, hy waai ou Maja sommer deurmekaar!"

In Turkye het dierbare ou Sullivan weer vir ons kom kuier. Weereens het dit gevoel of hy op Maja hoort. Altyd gereed om te help. 'n Juweel! "Dankie dat jy ons weer kom beteer het met jou sjarmante persoonlikheid."
 
Sullivan by Okluk Koyu
In Turkye het ons ook saam met Trevor en Leslie gekuier. Heerlik, soos ou vriende. En Leslie voel vir my soos 'n suster. Altyd lekker om hulle te sien.
 
Archie, Leslie en Trevor
 
Zafer het ons kom besoek in Ayvalik. Dit was heerlik om hom weer te sien. Met die sukkelende gesprekke, handgebare en skaterlag as woorde wegraak, het ons die kuier baie geniet. 

Archie en Zafer
 
Griekeland
 
Mourtzeflos Baai
 
Hierdie jaar het ons die noorde van Griekeland aangedryf. Snaakse plek, die noorde. My gunsteling plek vir hierdie jaar in Griekeland, was die seil om die derde vinger met sy sewentien kloosters. Vir Archie was die eiland, Limnos, die hoogtepunt van Griekeland.

Ons moes dié jaar twee keer vir lang periodes skuil. Eerstens, saam met Elize en Martie in Chios vir 'n week. En toe vir 12 dae in Myrina, op Limnos Eiland. Gus was op sy stukke in die seiljaar.

 Al ons seilplanne vir die jaar het verander toe ons besluit het om Maja in Lesvos te laat oorwinter, in plaas van Marmaris. Toe moes ons in die noorde bly, want as jy suid gaan, wind-af, sukkel jy om terug noord, wind-op, te gaan. Al wat ek kan sê, is die blêrrie Gus!

Paddy en Mary-Jane het vir ons kom kuier en hulle het in Datça op  Maja geklim. Hulle het toe van Symi tot Kos daam met ons geseil. Die twee het vir baie pret gesorg. Ons het hul kuier baie geniet.
 
Paddy en Mary-Jane by Kos
 
Elize en Martie het kom saam seil van Patmos tot Chios. Die twee musketiers se kuier is kortgeknip deur Gus en hulle het by Chios, in plaas van Lesvos afgeklim. Hulle het ook die stormsee saam met ons beleef.
 
Martie en Elize by Patmos
 
Pierre en Annatjie het vir ons kom kuier, maar Gus het ander planne vir ons gehad. Hy het ons vir die tweede keer op Limnos vasgevang, en hulle het toe nie eintlik baie saam met ons geseil nie. Hulle het egter hul kuier op Limnos baie geniet. (Daar is mos baie koffie winkels vir 'n ou koffietjie).
 
Annatjie en Pierre by Limnos
 
Ons het heerlik saam met Neil en Sandi by Limnos gekuier. Ons was 'n paar dae saam op die eiland. Dit was die eerste keer toe ons op Limnos was, en ook geskuil het teen Gus.

Sandi en Neil by Limnos
 
Vir Hentie en Diana het ons baie gesien in die jaar. Ons was vir drie dae saam in Thassos en toe vir 12 dae saam op Limnos. Hulle is jou waarlik van die gasvryste mense wat ek ken.
 
Diana en Hentie
 
Wat 'n vreemde jaar. Ons het altyd gehoor dat Gus vir twee weke aanmekaar kan waai en die jaar het ons dit beleef. Ons het hierdie jaar so seil-sel, skuil-skuil en kuier-kuier verby gekry. 
 
Nou is dit weer tyd om te groet. Tot volgende jaar, wanneer ons die volgende seiljaar aanpak.

Tot siens

Thursday, September 26, 2019

Roemenië. Sinaia. Peleş Kasteel.

26 September 2019. Donderdag.
 
Vandag is ons laaste uitstappie in Roemenië. Môre klim ons die trein na Bucarest en dan 12:00 klim ons die oornagtrein na Istanbul. Ons kom Saterdag so 7:00 in Istanbul aan en vlieg Saterdagmiddag 18:35 na Kairo, land 19:50. Ons vlieg dan vanaf Kairo 23:05 huis toe. Land Sondagoggend 7:10 op ORT.

Die opsomming van die blog sal eers beskikbaar wees as ons tuis is.

Ons stap busstop toe om die bus te klim na Sinaia. Archie weet die groot bus kom daar verby van Braşov af. So staan ons en wag vir die groot bus. Archie stap 'n entjie om iets te kyk en ek is by die busstop. Toe kom die minibus na Sinaia daar aan. Archie is moerland toe (soos my ma altyd gesê het). Gelukkig klim baie mense daar af en 'n klomp wil opklim. Ek roep vir Archie, maar hy stap net verder weg. Hy is mos doof, hoor my nie. Toe roep ek soos 'n straatvrou, maar hy hoor nie. Ek sê vir die busbestuurder hy moet asb net een minuut wag. Toe roep ek baie hard. "People stop and stare ..." Toe draai hy om en hardloop terug. Nodeloos om te sê dat ek hoogs de moer in was. Maar ons klim, almal kyk ons aan en ry toe na Sinaia.

Dis baie bewolk, maar ons wil graag Sinaia se Peleş Kasteel sien. So ons begin maar die 1.7 km stap na die kasteel. Dis soos gewoonlik op opper opste. My knieë en voete en rug begin al protesteer teen elke dag se baie loop. Maar ons kom bo. Die weer is dik.
 
Peleş Kasteel
 
Prins Carol 1 is in 1866 van Duitsland gebring om in Roemenië te regeer tot 1914. Die kasteel is gebou van 1873 tot 1914. Dit is nie op een slag gebou nie. Vanaf 2007 is die kasteel die eiendom van die Roemeense Koningshuis en is oopgestel as 'n publieke museum. Dit was reeds in 1953 'n privaat museum en het 'n groot verskeidenheid pragtige stukke. Daar is oral pragtige matte, daarom moet ons almal sukke hospitaal teater lapskoene aantrek om dit nie vuil te maak nie.
 
Die kasteel is ten volle gemeubileerd en is iets uit 'n ander wêreld. Dis maar moeilik om foto's te neem, want daar is miljoen toeriste. Al wat ek weet, is dat van sowat van prag en praal, het ek lanklaas gesien. Weelderige houtsneewerk, marmer tafels, glas van Murano in Venesië. Skilderye, goud en silwer. Net geskik vir die koninklikes wat hier gebly het. Ons vergaap ons aan al die  mooi. Te veel om in te neem.
 
Binnehof
Argitektuur van binnehof
Krygstuig
Loodglas vensters
Houtdeur
Kas
Wagkamer
Eetkamer vir 36 mense
Turkse Kamer
Teater
 
Die tuine is ook pragtig. Bome, struike en blomme. Veral die bome is hierdie tyd van die jaar pragtig omdat die blare begin verkleur. Daar is 'n reuse standbeeld van Koningin Elizabeth, eggenoot van koning Carol 1 van Roemenië in die tuin. Lyk my sy was 'n handige vrou, want sy sit en naaldwerk doen.
 
Koningin Elizabeth

In dieselfde tuin, omtrent 100m hoër op, is die Pelişor Paleis. Koning Carol het dit vir sy neef, (en toekomstige koning) Ferdinand (1865 - 1927) en sy vrou, Marie gebou. Sy het glad nie so goed met Koning Carol oor die weg gekom nie en sy is later in een van die boonste verdiepings se kamers oorlede. Die paleis was glad nie so luuks soos die kasteel nie.

Selfs die ou hekhuis het nie 'n tekort aan luuksheid nie en is 'n baie mooi gebou. Dit verleen tot vandag toegang tot die kasteel. 

Ou hekhuis
Pelişor Paleis
 
Ai, toe stap ons twee gewone mense maar in die ligte reën, gewapen met ons reënbaadjies, terug dorp toe en gaan eet  ciorba de borşa (afval sop) en Archie eet mamaliga, dis mieliepap, suurroom en 'n tipe ricotta kaas by Irish House. Geen koningsmaal vir ons nie.
 
Mamaliga
 
Die ligte reën raak net 'n sagte misreën en ons klim die minibus huis toe. Klaar gekasteel en klaar getoer.

Dan groet ons maar vir eers tot omtrent 2 Oktober, wanneer ons die seiljaar van 2019 sal opsom.

Roemenië. Buşteni.

24 en 25 September 2019. Dinsdag en Woensdag.

Ons klim die 11:55 trein na Braşov en kom 15:50 daar aan . Klim 'n ander trein 16:25 en kom 17:30 in Buşteni aan. Hier is ons nou in die bewolkte berge. Dis koud. Die berg het 'n hoed op.

Ons bly in Casa David, 'n hostel. Eintlik pragtig, ons kamer is heerlik warm. Ons durf die koue aan en gaan eet 'n pizza by die Ierse restaurant en kry toe elkeen 'n gratis bier. Daai pizza is omtrent lekker. Al wat nou kort, is 'n warm bed in 'n warm kamer. En ons is sommer gou in droomland.

Ons wil met die kabelkar boberg toe gaan. Die weervoorspelling lyk maar sleg. Bewolk die hele dag. Na ontbyt, pap en eiers, stap ons na die kabelkar toe. Bewolk of te not, ons gaan boberg toe.

Die kabelkar is gelaai met mense. Ons skuur rakelings verby die bome. Die kranse is vertikaal. G'n wonder hulle sê as jy op stap, neem dit vyf ure om bo te kom. En dan vyf ure af. Gelukkig is hier 'n  kabelkar.
 
Kabelkar
 
Bo gekom, is dit nog steeds bewolk, maar geen mis of reën nie. Ons gaan kyk na die Sfinks en die Babele, die lelike vrouens. Moet sê, dit lyk vir my glad nie na lelike vrouens nie!
 
Babele
 
Toe stap ons die 3 km na die kruis. Die paaitjie hou aan en aan. Dan is dit bietjie op en dan bietjie af. Almal stap kruis toe. Op 'n stadium moet ons aan kettings vasklou om nie na benede te stort nie, toe  klou en klouter ons maar. Dis gelukkig net 'n kort entjie, toe kan ons weer normaal stap.
 
Begin stap
Boberg
Rowwe terrein
Ketting
 
Die kruis is 'n groot staalkonstruksie. Dis opgerig ter herdenking van die Roemeense helde wat tydens die Eerste Wêreldoorlog gesterf het. Dit is 36m hoog en is gebou op Caraiman Piek ( 2291m). Die hoë konstruksie toring die lug in. Die uitsigte van hier bo af is baie mooi. Die dorpies lê doer onder tussen die berge. Te pragtig. Dis maar koud hier bo. Ons eet bietjie sjokolade vir energie. 
 
Uitsig oor vallei
Ruwe riwwe
Herdenkings kruis
 
Toe begin ons om die aftog te blaas. Langs die pad sien ons die man wat so moeilik loop. Hy het saam met ons in die kabelkar op gery. Hy stap sukkel-sukkel. Ons gesels met hom. Hy sê hy het "bad blood" wat al sy gewrigte aantas. Hy kan nie eintlik so goed Engels praat nie, maar ons sê vir hom dat ons hom bewonder dat hy hier stap. Hy sê hy bewonder vir Archie wat so kaalbeen stap. (Ja, hy het sy geliefde ou blou seilbroekie aan).
 
Op pad terug
Archie
Die man en Archie
 
Ons stap die 3 km terug na die kabelkar en ry af ondertoe. Wat 'n heerlike stap, al was dit bewolk. Stap bly maar my eerste liefde.
 
Die dorp is pragtig en die Sakse invloed is duidelik sigbaar. Ons stap nog so, toe loer die son tussen die wolke uit. Te heerlik. Die blou lug tussen die wit wolke, die berge wat hoog uittroon tussen kolle mis, wat 'n mooi gesig.

Toe stap en gaan kyk vir die kasteel wat ons van ons kamervenster af kan sien. Ons gaan nie in nie, want dit is te duur en stap toe terug Casa David toe. Lekker moeg, want ons het meer as 10 km vir die dag gestap. Dit trek vroegaand heeltemal toe en begin saggies te reën.
 
Woonhuis in Buşteni
Buşteni
Wag
Buçegi Berge
Buçegi Berge
Kasteel van ons kamervenster

Wednesday, September 25, 2019

Roemenië. Astra Museum.

23 September 2019. Maandag.
 
Een van die hoogtepunte van Sibiu is die Astra Museum, so 5 km van die dorp af. Dis 'n opelug museum oor die tradisionele leefwyse van die Roemeniërs. 

Ons klim bus nr 13 en sommer gou is ons daar. Dis bewolk en toe ons betaal, sê die vrou dat die huise is op 'n Maandag toe. Wel, ons besluit ons gaan maar in elk geval in en na die tradisionele nedersetting kyk. Een voordeel daarvan, is dat daar nie vandag honderde toeriste is nie. Dis vreeslik rustig hier. Ons hoop net dat die son sal deurbreek.

Daar is meer as 120 woonhuise, meulens en kerke. Hulle kom van oor die hele land en is hierheen gebring en tussen die twee klein mere weer aanmekaar gesit en opgerig. Die museum strek oor ongeveer 96 hektaar.  Die uitstallingsroete is 10 km lank. Voorwaar 'n wonderlike plek om te besoek.

Ek kry darem so nou en dan 'n roofkyk deur die vensters en by die een huis sit 'n vrou en weef.
 
Strooidak
Skool
Goudmyner se huis
Houtkerk
Houtkerk se fresco's
Sit- en slaapkamer
Muurversierings
Weefster
"Ferris wheel"
 
Archie verstom hom aan al die watermeulens en hoe hulle werk. Hy bekyk dit en probeer uitwerk hoe dit gewerk het. Die ratte en goed is van hout gemaak. Besonders.
 
Watermeul
Watermeul se houtratte
Toe is Archie honger
 
Ons stap na die vissershuise toe. Sommige is baie groot en ander eenvoudig. Die meer blink in die lig en eende swem verby. Die windmeulens is vir my baie mooi. Dit het in daardie tyd 'n baie belangrike rol gespeel om graan te maal. Archie klim in die een ou grote tot bo. Die ander een het seile. 
 
Visserman se opstal
Eenvoudige visserman se huis
Eende
Windmeul
Windmeul met seile …
… en sy ratte
 
Ons kyk na die skaapskuilings en die eenvoudige hut vir die herder. Daardie mense het eenvoudig gelewe en hard gewerk. Dis baie koud in die winter en alles is toegesneeu. Die skape word dan in skuiling gehou tot die lente.
 
Skaapskuiling
Eenvoudige kamer van skaapwagter
Langstert skape
 
Toe is dit die terugtog en ons stap verby die vervoermiddels van daardie tyd. Meeste van die waens is van hout gemaak. Sekuur en effektief. Ek kan nie glo dat die houtwiele so rond is nie.
 
Ou wa
Kapkar
Stoontrekker
 
Die laaste ding wat ons bekyk, is die veerboot op die meer. Toe is dit busstop toe, klim die bus en gaan terug na die mooi Sibiu.
 
Langs die meer