25-26
Mei 2018. Vrydag en Saterdag.
 |
Petalidhion tot Kalamata
|
Die son bring die nuwe dag as 'n geskenk vir ons om voort te
bestaan. Archie trek die anker op en soos wat verlede jaar ook met ons gebeur
het, trek hy ook 'n tou met met voerplekke of iets op. Hy sny dit maar later
met 'n mes, want dit hou nie op met kom nie. Toe is ons vry om te gaan en om
voort te bestaan.
 |
Sukkel met ou vislyne |
Ons vat die pad na Kalamata marina, 9.3 myl. Die marina man
wys ons plek en Archie tru pragtig, ek gryp die snoettou en die marina man maak
agter vas. Hier gaan ons vir twee dae bly.
Die dieselman met sy trokkie is dadelik daar en ons gooi in.
Archie vra vir een van die ander helpers waar is die wasmasjiene en hy sê sy
vrou doen wasgoed vir €15 vir 9kg. Dis duur, omtrent R200.00. Ek wou sommer
self was, maar die man vat nie nee vir 'n antwoord nie. Ek kry toe maar alles
bymekaar. Dis Sullivan se beddegoed, ons beddegoed, al die handdoeke,
kussingslope, klere. 'n Groot bondel. En hy is toe vort met die goed.
Archie besluit ons kort nuwe huis batterye, want ons oues
kan nie die yskas oornag aan die gang hou nie. Hy doen navraag by die marina
kantore vir ’n geskikte batterywinkel en ’n man van marina daag by Maja op om
ons te help. Hy laai Archie agterop sy bromponie en weg is hulle batterywinkel
toe. 30 minute en €580 later kom hulle terug. Die batterye kom later met ’n motor
aan. Die marina man hulp om die nuwe batterye op Maja te bring en die oues uit
te haal. Hopelik is ons nou reg vir die volgende paar jare.
Ek en Archie stap vêr LiDL toe, so 1.7 km en koop te lekker.
Ons dra swaar aan al die heerlikhede wat ons aangeskaf het. Toe is ons spens
weer vol. Winkels is nie volop in dié geweste nie. As daar ’n LiDL is, moet jy
koop!
Die volgende dag stap ons weer vêr na die ou dorp toe. Die
roete neem ons deur die park waar die spoorwegmuseum is. Ou lokomotiewe en
waens staan swaar en trots op ou spore, sierlike bewyse van vergange se dae.
Hier is baie kwekerye en die lenteblomme is in volle blom. Dis behoorlik ’n skouspel
van kleure. Dit laat my aan my ma dink.
 |
Gaan dorp toe |
 |
Spoorwegmuseum |
 |
Dink aan my Ma |
Saterdag is markdag en dit wemel van kopers en verkopers.
Plomp tamaties, vars appelkose. Én dis kersieseisoen! Groente, vrugte, vis,
vleis en alles waaraan jy kan dink. Te veel om te koop. Mens móét in die dorp met
die naam, Kalamata, olywe koop! Toe koop ons maar!
 |
Boeremark |
 |
Dit wemel |
Ons stap kasteel toe. Die beste deel van die kasteel, is
blykbaar sy hek. Ons kyk na die mure en die hek en stap verder. Daar is
ook ou en minder ou kerke in die dorp en ons bekyk alles.
 |
Kalamata se kasteel |
 |
Kasteel se hek |
 |
Kasteel se mure |
 |
Ypapanti Katedraal |
 |
Ou kerkie |
Af af af, terug na ou dorp en ons stap heerlik rond. Ek pas
blou broeke aan en ou Archie wag maar geduldig. Ek kry niks en die een waarvan
ek hou, kos €60. Dis R900.00. Veels te duur vir my.
Terug op Maja, sien ons Sakari en Riitta, met hul jag, Belle
amie, het ook gekom. Ons wuif. Gus begin waai en die Engelse wat inkom, het die
een probleem na die ander.
Hulle kry nie hul hoek reg om in die nou spasie in te draai
nie. Gus waai hulle teen die ander bote vas. Almal help wegstoot. Die landlyn
kom in hulle rudder. ’n Ander tou kom in die propeller. Die marina se
bootjie help. Die vrou langsaan gooi 'n tou, dié val in die water. Toe hulle
eindelik vas is, is ek uitasem en dis net van kyk! Arme drommels. Ek kry hulle
altyd so jammer, want sukke goed het al met ons ook gebeur.
 |
Marina se bootjie sit hand by |
Toe kom my wasgoed. Die man sê ek moet my wasgoed kom
uitken, want sy vrou het bietjie deurmekaar geraak. So worstel ek deur ander
mense se onderbroeke en kouse en klere. Kry toe al my goed. Ek sê toe duidelik
vir die man dat ek glad nie van die situasie hou nie. Ek is skoon
bemoerd!
Sowat van kreukels het ek lanklaas gesien. Dis nie ordentlik
opgevou nie. Die wasgoed het ook sukke wit strepe op. Seker nie goed uitgespoel
nie. Volgende keer doen ek verseker my eie wasgoed!
Ons gaan kuier by ons Finse vriende. Hulle gaan uiteet, maar
ons het vis om te braai en kan hulle nie vergesel nie.
Dit was 'n heerlike twee dae hier by Kalamata.