Tuesday, September 12, 2017

Macedonië. Skopje. ’n Nuwe land.



10 en 11 September 2017. Sondag en Maandag.

Dis baie bewolk toe ons die bus klim en na ons nuwe avontuur in Macedonië vertrek. Ons gaan vir drie dae tuisgaan in Skopje, die hoofstad van die klein land, Macedonië. Dit was voor hul onafhanklikheid bekend as Yugoslavië. En dit was ’n kommunistiese land. Jare terug, toe ek klein was, was dit deel van “die rooi gevaar”.

Ons kom by Skopje aan en gelukkig is ons oujongkêrels-woonstel naby die busterminaal. Dit lyk werklik na ’n gebou uit die kommunisties era. Ek merk op dat die omgewing nou nie eintlik ’n ligte, sorgvrye vakansiestemming het nie. Ons lag en vind ons blyplek, nadat ’n ouer inwoner van die gebou langsaan, ons die pad in vreemde tale aanwys.

Die gebou. Ons kamer is in die kelder agter

’n Ou tannie laat ons in, ook in vreemde tale en sluit ons eenheid (wat so semi in die kelder is), oop. Gelukkig het hulle ons verwag. Die plek is heel gerieflik, met eie piepklein kombuisie. Dis effe donker, want die vensters is maar min. Maar ons is heel tevrede.

Die aand eet ons gebraaide hoender wat Archie by die supermark koop. Heerlik.

Eerste op ons lys van besienswaardighede, is die Matka dam. Dis eintlik ’n dam tussen die hoë berge in 'n kloof. Ons klim bus 60 en ry daarheen. Daar is net een probleem – hulle werk aan die pad en die bus laai ons af en sê ons moet vêrder na die Matka dam loop. Ons stap toe maar die pad soontoe en dis vêr en lank en hard. Oral langs die pad lê vullis en rommel, amper erger as in Suid-Afrika. Na ’n uur se warm stap, kom ons uiteindelik by die damwal.

Lang instap

Ons besluit ons stap na een van die baie kloosters en 'n boot neem ons na die oorkant van die dam waar die paadjie begin. Ons stap die steil pad op na die klooster (wat gesluit was). Toe weer die steil pad af en dan slaan jy die ghong en die bootjie kom haal jou. 

Ekskursie bootjies
Steil paadjie
Klein klooster

Ons stap toe op 'n ander paadjie al langs die kloof op. Die water glinster blou-groen doer onder.Dis baie mooi en ons stap heerlik, net ’n jammerte dat dit so rommelbestrooi is. 

Restaurant by die water
Hotel en restaurant
Die dam
Op die paadjie

En nog is dit die einde niet. Stap is ons voorland en ek sien op na die lang pad terug na die bushalte. Dit voel langer, harder en warmer as met die kom. Ons het altesaam so 12 km vir die dag gestap en dit was baie vermoeiend. Ek is sommer moeg.

Ons het vars forel by die supermark gekoop en ek maak dit gaar. Goedkoop en heerlik.

No comments:

Post a Comment