Wednesday, May 31, 2017

Kuruca Bükü. Hisarönü Körfezi.


30 Mei 2017. Dinsdag.

Kuyulu Bükü tot Kuruca Bükü


Dis bewolk. Baie bewolk. Dit lyk na reën. Dit gaan reën. Vandag gaan ons na Çiftlik, dis ’n nuwe baai naby Kuruca, 11.3 myl. Ons verwag om enige tyd nat te reën.

Ons sit bedremmeld buite op die dek, almal met reënjasse aan. Dit begin saggies te reën. Chrismari gaan sit binne, in die veiligheid van Maja se pens.

Die reën word al hoe harder en ons is nie lus om by Çiftlik te gaan sukkel om ’n plek te kry nie en die kaptein besluit om na die bekende waters van Kuruca te vaar.

Ek gooi in die reën anker en die eerste keer byt dit nie. Ek trek ’n tuin vol seegras op en Archie kry ’n ander plek en ons gooi weer en die keer met groot sukses in 5 m water. Papnat en tevrede drink ons die té koue beverages. (Onthou, ons is nat en koud).

Dit reën die middag liggies en ons gaan eers 15:30 land toe. Die lug is weer pragtig en die landskap lyk skoongewas vars. Ons stap die koppie uit en kyk hoe helder is die water. Die seegras is duidelik te sien. Dis die donker dele tussen die turkoois water. Ons stap op die pier en die berge is daar vêr in die agtergrond. Ag, maar dis mooi hier. Ek raak sommer opnuut weer lief vir Turkye.

Kuruca Baai
Kuruca Baai
Kyk vir die wêreld
"Sitting on the dock of the bay … "
Chrismari en Kat

Ons kyk hoe lyk Çiftlik Baai, waar ons sou gaan anker het. Die twee baaie word net met ’n sand landengte van mekaar geskei. 

Landengte tussen Çiftlik Baai en Kuraca Baai
Çiftlik Baai

Ek maak die aand groente saam met so stuk gedroogte wors wat ons gekoop het. Maar mensig, is dit vir my sleg. Die ander twee eet maar getrou al wurgend aan die kos. (Hulle sê dis lekker, maar ek dink hulle jok).

Dis ’n pragtige windstil aand, net soos ek daarvan hou.

Tuesday, May 30, 2017

Kuyulu Bükü. Hisarönü Körfezi.


29 Mei 2017. Maandag.

Keçi Bükü tot Kuyulu Bükü

Ag wat, ons hou lui-lekker vakansie. Vandag is dit weer net ’n entjie se vaar na Kuyulu Bükü, 3.8 myl. Dis baie mooi in die körfezi en Chrismari sit dekoratief op Maja se snoet.

Chrismari

Ons gaan eers swartwater by Marti Marina uitpomp. Seilende Sigeuners? Nee, eerder Stinkende Sigeuners. Van seil is daar nie sprake nie én ons kort dringend 'n stort. Alles verloop vlot en ons begin die nuwe tog. Na ’n uur vaar ons die baai in en ons is die enigste jag. Die baai is net ons s’n en ek gooi daai anker dat hy byt. ’n Boot is nooit vry nie, sy is altyd geanker aan die grond. Sy is die marionet van haar kaptein. Maja aanvaar haar lot en swaai haar stertjie liggies soos wat Gus haar swaai en draai en waai.

Kuyulu Bükü

Hulle voorspel reën en die lug is oortrokke, swanger met vog. Êrens is daar donderweer weer en ’n veraf gerammel is hoorbaar. Teen 16:00 gaan ons land toe en die skepping lyk so vars, asof dit nou net geskape is. Die kleure is helder en die berge in die verte donker. Heeltyd reën dit elders. Ons stap te heerlik.

 
 
 
        
 

Sowat van mooi het ons lanklaas gesien. Alles lyk perfek. Maja eensaam, dog tevrede in die baai. Drie mense in visuele ekstase oor dit wat aan hulle gebied word. Mooi, mooier, mooiste. Wat meer kan ek sê?

Tevrede

Dit reën nie meer elders nie, maar hier by ons. Die nat dring ons neusgate binne en ons adem dit in. In die verte verskyn die reënboog. Ons gee nie om vir die effe nat nie en klim in Dinkie en ry in die nat terug na Maja.

Reën

Hoe wispelturig is die körfezi nie. Die son skyn en ons swem. Vir my is dit die lekkerste swem van die seisoen.

Archie kook manti en ons eet dit saam met 'n heerlike tamatie pesto en Nandos peri-peri sous.

Monday, May 29, 2017

Keçi Bükü. Hisarönü Körfezi.


28 Mei 2017. Sondag.

Selimiye tot Keçi Bükü

Vandag is dit een van ons gunsteling plekke in hierdie golf, Keçi Bükü, 7 myl. Dis een van daai baaie wat “all round shelter” het. Ons vaar al die pad, want van wind is daar geen sprake nie.

Chrismari aan die werk


Keçi Bükü is een van die mooiste plekke in die golf. Daar is digte dennebome aan die eenkant en groot bome aan die ander kant van die baai. Daar is ’n baie ou fort op die eiland wat omtrent in die middel van die baai lê.

Ons gooi anker en ons is tuis. Chrismari is op haar pos met die koue drankies wat sy moet skink. En ons sit op die dek en teug behaaglik daaraan. Ai, wat ’n voorreg!

"Village bread"

Toe is dit tyd vir die verkenningstog. Ons al drie klim in Dinkie en daar trek ons. Eerste aan die beurt is die koppie met die fort. Die ou mure staan bleekwit in die son, wat besig is om agter die wolke te verdwyn. Archie en Chrismari klim tot bo. Hulle is mos soos ribbokke. Ek gaan sit op ’n klip en luister of ek nie weer die sirenes hoor nie. Maar helaas, geen engelesang is dié jaar vir my beskore nie.

Archie en Chrismari het ’n mooi uitsig van bo af en ondersoek ’n ou watertenk. Hulle kom af en ons vat die pad na die land.

Muur
Uitsig
"Kyk, daar's Maja"
Sandbank en watertenk
Op pad af

Dié ding om hier te doen, is om op die sandbank te loop. Dit strek tot diep in die baai. Busvragte vol toeriste kom hierheen om dié loop te loop. En ons loop saam. Ek het my swemskoene aan, maar Archie en Chrismari se stadsvoetjies kry maar seer. Maar loop loop ons.

Sandbank lopers
Op die sandbank
Nog steeds op die sandbank
Ek en Archie

Na ons besoek aan die klein dorpie, klim ons weer in Dinkie. Archie klim vreeslik eienaardig in en die skare op die land hou hom dop. Daar is selfs diegene wat die klimmery op film vaslê. Ek dink hulle wag net vir die invalslag, wat gelukkig nie gebeur nie.

Ons geniet ons kuier by dié klein juweel baie en Chrismari merk op dat dit groot pret is. Sy sê dit in Engels, want ek dink sy wil vreeslik graag Engels wees.

Ek lê op die dek en word meegevoer deur die visuele veranderings rondom my.



Sunday, May 28, 2017

Selimiye. Hisarönü Körfezi.


27 Mei 2017. Saterdag.

Bozburun tot Selimiye

Weereens is die water ’n bad. Dit roer nie, dit lê net. Ons vertrek na Selimiye, 15.9 myl, in die volgende golf, die Hisarönü Körfezi.

Bozburun badwater

Die eiland wat so eensaam in die see lê, weerkaat tot ’n dofbeeld van homself. Een bokant die water en die ander een onderkant die water. Eenders en tog so anders.

Dofbeeld

Hulle het reën voorspel en dit was nie verkeerd nie. Kort voor lank val die druppels na benede. Ons ou drietjies sit maar met ons reënjasse en Chrismari soek so elke nou en dan die snoesigheid van Maja se saloon op.

Die reën hou darem nie vir lank aan nie en toe is ons daar. Ons vaar eers rondom die geskikte restaurant te soek waar ons wil vasmeer en besluit toe op Aurora. Chrismari laat die fenders sak en ek en Archie maak reg vir die vasmeer. 

Gepantser teen die reën

Archie tru, ek gryp die snoettou, maar hemel, is dié tou swaar. Ek trek en later kom help Archie. Toe is ek terug helm toe en ek moet tru. Archie is nog voor besig. Ek tru en vang toue en gaan soos ’n mal ding daar agter te kere. Toe ons uiteindelik vas is, het ek asemnood.

Selimiye

Ons gaan verken die dorp en stap op na die kasteel. Dit dateer uit die Middeleeue. Dis ’n vêr pad en soms moeilik vir my om die klippe te klim, maar eindelik is die kasteel daar. Archie en Chrismari klim tot heel bo en ek wag op hulle op ’n klip. Dis ’n mooi uitsig op die baai hier van bo af.

Blomme-kinders
Uitsig van kasteel
Kasteel
'n Blommetjie langs die pad (Deon ons soek sy naam!)

Ons pak die terugtog aan en toe is ons natgesweet en moeg. Na ’n bietjie nat oor ons lippe, gaan stort ons en maak gereed vir die aand se uiteet. Chrismari lyk te pragtig in haar nuwe rok en fladder soos pragtige vlinders na Aurora Restaurant.

Nuwe rok
Aurora restaurant

Die kos is ’n feesmaal. Ons bestel twee mezes. En vir hoofgereg bestel ek lamskenkel en die ander twee ’n visbredie. Ons al drie stem saam, dis nog van die lekkerste wat ons al hierdie jaar in Turkye geëet het. Dis net jammer dat hulle 20 lire vasmeerfooi vra. Dis die eerste keer in Turkye waar ons by ’n restaurant kaai vir vasmeer moet betaal. Gewoonlik werk dit so – as jy daar vasmeer, moet jy by hul restaurant eet en vasmeer is gratis!?

Lamskenkel
Visbredie