Saturday, July 9, 2016

Afskeidsete en tot siens.



7 Julie 2016. Donderdag.

Alles kom op 'n end. Altyd die groot koebaai. Ons gaan eet ons laaste noenmaal by die Green House restaurant. Deon het ’n bottel Roodeberg gebring en ons vat dit saam. Ons vertel vir die eienaar dat dit ’n spesiale bottel wyn van Suid-Afrika is en vra of ons dit kan drink. Hy vra vreeslik uit oor die wyn en daar is geen probleem nie. Ons mag dit drink. 

Opgetof …
… ons ook

Deon bestel seekos en die res van ons lamsbredie. Die kos is ’n fees vir die oog. Die opdienbakke kom al vlammende daar aan en die kos word opgedien. Ons eet heerlik.

Drink Roodeberg
Kos lyk heerlik

Baie dankie Deon en Ryna vir ’n baie besonderse afskeidsete. Die mengsel van die kos en julle samesyn maak dit onvergeetlik.

Deon.

Deon is tevrede

Deon is ’n stapper. Met sulke lang bene kan jy ook nie anders nie. Hy stap nou behoorlik die wêreld plat. Vroegoggend is hy uit en verken. Hy moet vêrlangs familie van Livingston wees.

Dáárby is hy ook ’n fotograaf. Hy net seker ’n miljoen foto’s geneem, gaan nooit êrens sonder sy kamera nie. Alles word op beeld vasgelê.

Hy is baie entoesiasties met die geseil. Hy het gou geleer van toue trek en seile span. Archie verklaar hom as bevoegde dekhand.

Deon skryf:
Wat natuurskoon betref, is die mooiste plek beslis die Komen Adasi anker. Sit daarby ’n redelik stil baai na 2 dae van ’n stormsterkte Meltemi en perfekte 30m sig vir ons snorkelduikers. Ons Aliwalers ken van warmwater bronne, maar hier borrel dit in die see uit! Dit was beslis die plek vir my.

Körmen Adası
Piekfyn duiktoestande

Die tragiek van Ayvalik se Giekse geboue van die 1920’s en Ortedokse kerke wat nou in moskees verander is, lê na aan die hart.

Die “wow” tye was beslis die 8 knope seil in 30+ knope wind en as Gus ons by tye teen 60° geruk het.

Rowwe see

Ryna.

Ryna

Sy kom as ’n ’n onbekende en gaan weg as my vriendin. Sy is altyd reg en gereed om te help. Sy kan ook vreeslik jok! Sy sê sy kan nie kosmaak nie, maar haar kos was heerlik!

Ek het altyd gesing as ek benoud was. Ryna lees. Sy vat haar storieboek, The Longest Ride” en lees doelgerig, dan gaan die benoud weg. 

Ryna en haar boek

Ek en Ryna het saans op die dek gesit en skerts en grappies vertel. Ek het haar vreeslik geniet.

Ryna skryf:

Die mooiste plek was Yenifoça. Die panoramiese uitsig vanaf ‘n heuwel gee ’n gevoel van rustigheid. Die dorpie is goed beplan, vreedsaam en die mense is hardwerkend. Mens kan LEWE eintlik hier inasem. Yenifoça was ook pragtig….ek sou net die Turkse vlag wat die man op die berg dra met ‘n vlag van die kruis wou vervang … . Ons het ‘n perfekte sundowner op ’n spieëlgladde see geniet. 

 
Yenifoça

Dit was idillies wanneer ons smiddae op anker almal kan ontspan met ‘n glasie wyn in die hand. Maja wat haar stertjie heen en weer wieg om seker te maak ons kan alles rondom ons indrink.

Smiddae op anker

Deon en Ryna was ook modelgaste. Dankie, dat julle by ons op Maja kom kuier het. Ons het dit vreeslik geniet. Julle is altyd welkom!

Koebaai julle

No comments:

Post a Comment